Brekende Nuus
Nuus

Ma’s dagvaar dagsorgsentrums oor beweerde toedien van slaapmiddel

Foto: Ter illustrasie - nie verwant aan voorvalle nie

VSA. Twee ma’s het ’n dagsorgsentrum in Orange, Kalifornië, gedagvaar oor bewerings dat personeel van Kiddie Academy of Orange kinders tydens slaaptyd sonder toestemming melatonien in die vorm van koulekkers gegee het. In ’n afsonderlike saak het die ouers van ses kinders in Januarie onderwysers van Northgate Crossing Elementary School in Spring, Texas, oor melatonienplakkers gedagvaar.

Cassandra Sandoval van Kalifornië sê sy het haar 4-jarige seun op 11 September by die sentrum gaan haal nadat sy op ’n regstreekse video gesien het hoe ’n personeellid glo iets in sy mond plaas. Sandoval sê sy het haar seun se slaappatroon begin dophou nadat dit verander het en hy gevra het vir die “slaaplekkers” wat hy glo by Kiddie Academy of Orange gekry het. Toe sy ná die video by die sentrum aankom, het hy volgens haar gekwyl en was dit moeilik om hom wakker te kry. Sy het albei haar kinders uit die sentrum gehaal, haar seun hospitaal toe geneem en die voorval by die polisie aangemeld. 

Priscilla Ayala sê sy het geweier toe personeel toestemming vra om haar 4-jarige dogter melatonien te gee. Volgens die hofstukke het haar dogter later van die “lekkers” gepraat en nagmerries begin kry. Die siviele saak berus op bewerings van aanranding en nalatigheid.

Die dagsorgsentrum sê die betrokke personeellid is op administratiewe verlof geplaas hangende die uitslag van die lisensiëringsondersoek. Die sentrum sê hy werk met die owerhede saam. Kalifornië se departement van maatskaplike dienste het aan ABC7 bevestig dat die saak ondersoek word.

In ’n afsonderlike saak het die ouers van ses kinders in Januarie onderwysers van Northgate Crossing Elementary School in Spring, Texas, gedagvaar. Volgens die hofstukke het die onderwysers in 2024 glo sonder ouers se toestemming melatonienplakkers op voorskoolse kinders aangebring om hulle te laat slaap. Lisa Luviano het aan ABC News gesê haar 4-jarige dogter het in September 2024 met ’n plakker met ’n sterpatroon huis toe gekom. Die kind het dit ’n “slaapplakker” genoem en gesê haar onderwyser gee dit vir haar wanneer dit tyd is om te slaap.

Volgens die hofstukke is meer as een plakker glo op sommige kinders aangebring en is sommige plakkers na bewering hergebruik. Die skooldistrik het ná die aanvanklike klagte ’n interne ondersoek begin en personeel op administratiewe verlof geplaas.

Melatonien word as ’n slaapmiddel gebruik. Dit is ’n hormoon wat jou liggaam natuurlik vervaardig om jou slaap-en-wakker-ritme te reguleer. As medisyne kan dit jou help om makliker aan die slaap te raak en word dit soms gebruik wanneer jou slaapritme versteur is, soos ná ’n lang vlug oor tydsones.

Bronne: Kalifornië – ABC7 Los Angeles, CBS Los Angeles, People, Houston Chronicle Texas – ABC News, KPRC 2 Houston, Houton Chronicle