KWAZULU-NATAL. – ‘n Matriekleerling (18) het glo aan die polisie beken dat hy sy oupa (48) in November 2024 vermoor het.
Kapt. Alex Thomson sê die oorledene het glo in November 2024 aan sy familie gesê hy gaan jag. Hy het vir dae lank nie teruggekeer nie, waarna sy ontbindende liggaam op 13 November deur lede van die gemeenskap in ‘n bamboesveld in Sundumbili ontdek is. ‘n Moordsaak is geopen.
Die polisie het ‘n wenk ontvang dat die kleinseun glo vir sy oupa se moord verantwoordelik is. Na ‘n behoorlike ondersoek is die matriekleerling op 12 Februarie op aanklag van moord by sy skool gearresteer.
Thomson sê nadat die kleinseun beken het hy het sy oupa doodgemaak, het hy die vuurwapen wat hy vir die misdaad gebruik het aan die polisie oorhandig. Hy het ook sy oupa se vuurwapen, wat hy van die misdaadtoneel verwyder het, aan die polisie uitgewys.
‘n Beretta-handwapen, ‘n selfgemaakte vuurwapen en ‘n rondte lewendige ammunisie is gekonfiskeer. Die matriekseun is vir die moord aangekla en het in die Nyoni-landdroshof verskyn.
Die saak is verdere ondersoek uitgestel en die kleinseun bly in aanhouding.





