OOS-KAAP. – Die Provincial Youth Crime Prevention (PYCP) wens matrikulante van 2024 geluk met die manier waarop hulle hulself gedurende moeilike tye gehandhaaf het. Maar terselfdertyd word hulle oor die sogenaamde pens down-partytjies gewaarsku.
Sydwell Magocoba, die voorsitter van PYCP, sê hierdie sogenaamde partytjies is deurspek met oormatige alkohol en dwelmmisbruik. Magocoba voel ook die jeug tree dan maklik roekeloos op en stel hul lewens en matriekprestasies in gevaar.
Rolspelers – die departement van onderwys, beheerliggame, onderwyspersoneel, ouers, drankhandelaars, leerlinge en die gemeenskap – word deur Magocoba gevra om saam met PYCP hierdie tipe partytjies of byeenkomste te stop. Voorts is PYCP bewus van beweerde beplande byeenkomste wat direk na die laaste eksamen geskryf is, sal plaasvind en waarsku rolspelers en wetstoepassingsowerhede om waaksaam te wees.
As voorsitter van PYCP het hy ook alle belanghebbendes wat ‘n rol ter ondersteuning van die matrikulante se skoolloopbane gespeel het, bedank.
“Baie geluk aan die klas van 2024. Mag jy op jou blink toekoms fokus en nie in die versoeking kom om jou enorme potensiaal te verwoes nie.”





