Johnson Ncube, wat in 2023 aan Hoërskool Noordheuwel gematrikuleer het, was op 17 Desember 2023 in ‘n gru-motorongeluk betrokke. Hy het erge breinbeserings en ‘n gebreekte femur opgedoen.
Die tiener, wat as borrelend en goedgemanierd beskryf word, is tans onder mediese sedasie.
Volgens ‘n sosialemediaplasing van Gerald Phaal het hy ‘n operasie ondergaan om die breinbloeding te stop en die swelling op die brein te verlig.
Daniella van der Merwe was in dieselfde ongeluk betrokke. Phaal sê in die plasing sy vorder goed, maar haar herstelproses gaan moeilik wees.
Gerald en Annatjie Phaal is peetfamilie vir Johnson, wie se ouers, Rosie en Martin, al vir 27 jaar in hulle diens is.
“Ons het vir Johnson en sy sussie, Rosanne (tans ook in Hoërskool Noordheuwel), sien grootword. Dit is een van ons grootste voorregte om Johnson te kon help om sy skoolloopbaan te voltooi.”
“Dra asb. steeds vir Johnson en Daniella op in julle gebede.”
Lees die bywerking van Gerald Phaal wat gister op die skool se Facebook-blad gemaak is hier onder:
Ek antwoord weens die talle navrae oor Johnson. Ons as peetouma en peetoupa kon hom vandag vir die eerste keer besoek. Niemand anders word daar toegelaat nie.
Johnson het nog nie sy bewussyn herwin nie. Asemhaling vind plaas via ‘n tragea voor in die keel. Daar is tye wat hy al self asemhaal. Die breinbesering is egter die groot bekommernis. Ek verkies om nie te veel detail hier te plaas nie.
Ons was ook by Daniella. Sy vorder goed, maar die herstelproses gaan baie moeilik wees.
Ons bid vir ‘n wonderwerk vir Johnson.
Al julle mooi mense van Noories moet aanhou bid vir beide asseblief. Dankie namens ons Phaal-familie asook die Ncube-familie, Rosy, Martin en Rosanne wat nou graad 9 toe gaan.

Bron: Gerald en Annatjie Phaal en Hoërskool Noordheuwel Facebook-blad
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





