Brekende Nuus
Nuus

Mbalula gaan teregstaan vir crimen injuria ná uitlatings oor voormalige Bergview-hoof

Foto: Fikile Mbalula

OOS-KAAP. – Fikile Mbalula, die ANC se sekretaris-generaal, sal strafregtelik vervolg word op ’n aanklag van crimen injuria oor openbare uitlatings teen Jaco Pieterse, voormalige hoof van Bergview College in Matatiele. Die besluit volg op ’n strafregtelike klag wat Pieterse met die hulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid gelê het.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê Mbalula het op 1 April 2025 tydens ’n mediakonferensie ná ’n ANC-vergadering na die beweerde verkragting van ’n Bergview-leerling verwys. Hy het onder meer gesê AfriForum beskerm verdagtes en Pieterse as ’n “dier” beskryf. 

Die saak hou verband met ’n bewering deur die ma van ’n kind dat haar dogter in Oktober 2024 by Bergview College verkrag is. Die NVG het egter in 2025 aangedui dat daar nie bewyse van verkragting of seksuele aanranding was nie en dat niemand in verband met die beweerde verkragting vervolg sou word nie. 

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het op 13 Augustus 2026 vertoë aan die NVG gerig en aangevoer dat Mbalula se opmerkings, binne die konteks van die gebeure, deur die publiek as ’n verwysing na Pieterse verstaan kon word. Die NVG het ook in Augustus bevestig dat die EFF-leier Julius Malema oor soortgelyke uitlatings oor Pieterse vervolg sal word.

Druk hier om die hele verklaring te lees.