GAUTENG. – Senzo Mchunu, die polisieminister, is op verpligte betaalde verlof geplaas en ‘n geregtelike kommissie van ondersoek onder leiding van die waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga is ingestel ná die beweringe wat ‘n week gelede deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi op ‘n mediakonferensie gemaak is. President Cyril Ramaphosa het Sondagaand die land hieroor toegespreek.
Mkhwanazi het op 6 Julie onder meer beweer dat die minister van polisie by sensitiewe ondersoeke ingemeng het en saamgesweer het met sakelui, insluitend ’n beskuldigde in ’n moordsaak, om die politieke moordtaakspan in KwaZulu-Natal te ontbind. Mkhwanazi het ook gesê dat ’n ondersoek van die taakspan ’n sindikaat in Gauteng blootgelê het wat deur ’n dwelmkartel beheer word. Die sindikaat sou glo betrokke wees by politici, regstoepassingsbeamptes, korrektiewe dienste, aanklaers, die regbank en sakelui.
Volgens president Ramaphosa is hierdie bewerings ernstig, aangesien dit “die vertroue van Suid-Afrikaners in die vermoë van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om hulle te beskerm en misdaad te beveg, kan ondermyn.”
Adv. Sesi Baloyi SC, die waarnemende adjunkhoofregter, sal die ondersoek lei en sal deur adv. Sesi Baloyi SC en adv. Sandile Khumalo SC bygestaan word. “Die kommissie sal ondersoek instel na enige senior amptenare, in diens of afgetree, wat moontlik misdadige aktiwiteite bevorder het of versuim het om op geloofwaardige intelligensie te reageer,” het Ramaphosa gesê.
Die president het ook gesê die minister van polisie het onderneem om sy volle samewerking aan die kommissie te gee. Ramaphosa het gesê ’n waarnemende minister sal uit die kabinet aangewys word tot prof. Firoz Cachalia as waarnemende minister van polisie sy pos aan die begin van Augustus opneem. Cachalia is tans ‘n regsprofessor aan die Universiteit van die Witwatersrand en dien ook as voorsitter van die teenkorrupsie-adviesraad. Hy was voorheen LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng.
Die kommissie sal tussentydse verslae ná drie en ses maande indien en uiteindelik ’n finale verslag aan die president, die NV-speaker en die hoofregter voorlê. Die president het beklemtoon dat die kommissie met dringendheid en deeglikheid te werk moet gaan en dat die SAPD en ander regstoepassingsagentskappe sonder ontwrigting sal voortgaan met hul funksies terwyl die ondersoek voortduur.
Lees die president se volledige toespraak hier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





