Meer as 185 000 aansoeke in die polisie se e-werwingsveldtog binne eerste 48 uur ontvang

Lees ook :

Foto: SAPD

GAUTENG. – Meer as 185 000 aansoeke is binne die eerste 48 uur ná die opening van aansoeke vir indiensneming by die polisie ontvang. Die organisasie het op 30 Junie amptelik sy eerste elektroniese werwingsveldtog op sy webwerf geloods. Die doel is om 5 500 voornemende polisielede vir die 2025/2026-boekjaar aan te stel. Die sluitingsdatum is 18 Julie.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits daar word vir die eerste keer in die geskiedenis van die organisasie van ’n elektroniese werwingsportaal gebruik gemaak. Jongmense van regoor die land kan hul aansoeke vir intreevlak polisiekandidaatposte indien. Hierdie verskuiwing na ’n digitale platform het ten doel om papierwerk te verminder, korrupsie en nepotisme hok te slaan en aansoeke wat verlore raak, te voorkom. Dit sal ook die werwingsproses billiker, doeltreffender, kostebesparend en meer deursigtig maak. Manlike en vroulike kandidate tussen die ouderdom van 18 en 35 jaar, sonder kriminele rekords of handende sake teen hulle, kan aansoeke indien. Die werwingsproses teiken aansoekers met vaardighede vir aanstelling in gespesialiseerde afdelings. Die keuringsproses is streng en sluit psigometriese en integriteitstoetse, fiksheidstoetse, vingerafdruk-/veiligheidsondersoeke en mediese evaluasies in. Suksesvolle kandidate sal ’n nege maande lange opleiding by SAPD-opleidingsakademies landwyd ondergaan en ’n maandelikse toelae van R4 500 ontvang.

Daar is tans 5 500 jongmense in opleiding by SAPD-akademies. Sommige sal in Augustus en die res teen Desember hulle basiese opleiding voltooi. Die aansoekproses is gratis en geen pos by die SAPD is te koop nie.

Mathe sê van die aansoeke wat reeds ontvang is, is meer as 53 000 van Gauteng, 30 000 van KwaZulu-Natal, 20 000 van Limpopo, 19 000 van die Oos-Kaap,18 000 van Mpumalanga, 17 000 van die Wes-Kaap, 14 000 van die Vrystaat, 11 000 van Noordwes en 4 000 van die Noord-Kaap. Meer as 105 000 van die aansoekers is vroue, terwyl die aantal manlike aansoekers net oor die 80 000 beloop.

Aansoekers word versoek om geduldig te wees, aangesien die SAPD se amptelike webblad tans ‘n groot aanvraag ervaar. Waar vertragings ondervind word, word aansoekers aangemoedig om die loopbane-blad gereeld te verfris.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief