CHINA. – Meer as 7 000 gevalle van die Chikungunya-virus is in die Guangdong-provinsie in China sedert Julie aangemeld. Gevalle is in 13 stede aangemeld, met die meeste gevalle in die stad Foshan waar mense in die hospitaal moet bly totdat hulle negatief toets vir die virus of reeds ’n week opgeneem was.
Lees ook: Meer as 100 mense vermis ná oorstromings in Indië
Chinese owerhede het mense gewaarsku om stilstaande water uit hulle huise te verwyder of hulle kan boetes van tot 10 000 yuan kry. Die owerhede het ook “olifantmuskiete” wat kleiner muskiete sal eet, asook visse wat muskiete eet, in die water vrygelaat.
Die siekte word versprei deur besmette Aedes-muskiet, ook bekend as die Asian Tiger. Dit kom algemeen in Suid- en Suid-Oos-Asië en dele van Afrika voor. Chikungunya kan nie van persoon tot persoon oorgedra word nie; dit versprei deur die byt van ’n wyfiemuskiet, gewoonlik in die dag.
Alhoewel die simptome van die siekte baie ooreenstem met dié van denguekoors (knokkelkoors) en dit deur dieselfde muskiet veroorsaak word, is die twee siektes nie dieselfde nie.
Bronne: BBC, ABC News, CBC





