GAUTENG. – Meer as 70 matriekleerlinge van verskeie skole aan die Wes-Rand ontvang behandeling in die Carletonville-distrikshospitaal nadat hulle vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen het.
Motalatale Modiba van die onderwysdepartement sê die 74 meisies, tussen 17 en 20 jaar, van Hoërskool Fochville, Hoërskool Badirile en die Tegniese Skool Wedela was op ‘n matriekkamp by Hoërskool Fochville. 42 leerlinge is vanoggend by die Fochville-kliniek en 32 leerlinge by die Kokosi-kliniek met simptome van maagkrampe en diarree gesien en na die Carletonville-distrikshospitaal vir verdere evaluasie verwys.
Een van die leerlinge is na ‘n privaat fasiliteit geneem.
“Ons gesondheidsorgspanne hou die situasie noukeurig dop. Gelukkig is die meerderheid leerlinge in ‘n stabiele toestand.”
Die insident volg kort op ‘n tragedie waarin vyf kinders van Naledi in Soweto hulle lewens weens vermoedelik voedselvergiftiging verloor het. Een kind is steeds gehospitaliseer.
“Die departement is veral bekommerd oor hierdie herhaalde voorvalle en ons werk nou saam met relevante owerhede om meer bewustheid in gemeenskappe te kweek. Ons herinner die publiek om waaksaam oor voedselveiligheid te wees en die behoorlike hantering van bederfbare en nie-bederfbare voedselitems te verseker. Dit is belangrik dat kos deeglik gaargemaak word, by die regte temperatuur gestoor word, en binne veilige tydraamwerke verbruik word. Die was van hande voor die hantering van kos en na die gebruik van die badkamer om kruisbesmetting te vermy, is ewe belangrik.”
“Die publiek word verder aangeraai om alternatiewe metodes as plaagdoders en insekdoders op hul eiendomme en tuine te gebruik. Waar plaagdoders en insekdoders gebruik word, is dit belangrik om die veiligheidsinstruksies te volg en dringende mediese hulp te soek, indien vergiftiging vermoed word.”





