Meer as R630 miljoen wat vir opleiding en vaardigheidsontwikkeling bedoel was, kan glo nie by die ETDP SETA (Education, Training and Development Practices Sector Education and Training Authority) opgespoor word nie. Die Demokratiese Alliansie het intussen ’n strafregtelike saak geopen oor die verdwyning van dié geld.
Karabo Khakhau, DA-woordvoerder vir Hoër Onderwys en Opleiding, sê die stap volg ná ernstige bekommernisse oor hoe finansies onder leiding van Nokukhanya Mafahla en Nombulelo Sesi Nxesi by die instelling bestuur is. Sy meen die optrede van die huidige en vorige bestuur, insluitend senior amptenare, moet strafregtelik ondersoek word.
Die party voer aan dat daar groot probleme was met rekordhouding en finansiële beheer en dat dit onduidelik is hoe die geld bestee is. Die geld was bedoel vir beurse, vaardigheidsontwikkeling en opleidingsprogramme vir jongmense. Volgens die ouditeur-generaal kon die uitgawes nie behoorlik geverifieer word nie weens onvoldoende dokumentasie, wat verdere vrae laat ontstaan oor die bestuur van die geld.
Die polisie het volgens Khakhau reeds ’n saak geregistreer en sal na verwagting ’n ondersoekbeampte aanwys om die aangeleentheid verder te ondersoek. Die DA sê hulle wil hê die volle waarheid moet aan die lig kom en dat enige verlore geld verhaal moet word.
Druk hier om meer te lees.




