KWAZULU-NATAL. – Vyf persone is Sondagmiddag in Estcourt doodgeskiet en nog een is gewond toe daar tydens ‘n tradisionele seremoniële feesviering op hulle losgebrand is.
Kol. Robert Netshiunda sê ‘n verdagte (28) is tydens ‘n intelligensiegedrewe ondersoek deur Amangwe-speurders in ‘n hospitaal in hegtenis geneem. Maandagmiddag is nóg vyf verdagtes gearresteer waar hulle in ‘n kamer in Acaciaville in Ladysmith “afgekoel” het. Twee AK47-aanvalsgewere met 115 rondtes, twee pistole met 12 rondtes en ‘n .38 Special-rewolwer met ‘n rondte is in hulle besit gevind. Die wegkomvoertuig wat in die misdaad gebruik is, is ook gevind.
“Een van die vuurwapens wat gevind is, het aan ‘n man behoort wat in Sondag se massaskietery dood is. Ondersoeke het die polisie ook na ‘n huis in Ezakheni gelei waar nog ‘n vuurwapen gevind is. Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse geneem word, om vas te stel of dit met ander misdaadtonele in en om die provinsie verbind kan word.”
Die verdagtes sal Woensdag op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die Ladysmith-landdroshof verskyn, waarna hulle op verskeie aanklagte van moord in die Estcourt-landdroshof sal verskyn. Die verdagte (28) wat Sondag gearresteer is, het Dinsdag op aanklagte van moord in die Estcourt-landdroshof verskyn.
“Die gearresteerde verdagtes was glo in Amangwe en omgewing by verskeie veerdiefstal- en moordsake, betrokke.”
Nuusflits het berig ‘n verdagte is tydens ‘n intelligensiegedrewe ondersoek deur Amangwe-speurders in ‘n hospitaal in hegtenis geneem nadat vyf persone Sondagmiddag in Estcourt doodgeskiet en nog een gewond is, toe daar tydens ‘n tradisionele seremoniële feesviering op hulle losgebrand is. Ses vermomde verdagtes met gewere en handwapens het by ‘n huis opgedaag. Daar is op die mense geskiet, waarna drie op die toneel gesterf het. Nog twee persone is na ‘n mediese fasiliteit gehaas. Een van die gewondes het in die hospitaal gesterf. Die oorledenes was onderskeidelik 45, 57, 60 en 61 jaar oud.
“Die verdagte het ‘n skietwond in die bors en ‘n gebreekte arm op die misdaadtoneel opgedoen en is deur sy makkers hospitaal toe geneem. Dit moet nog vasgestel word of hy deur vriendelike vuur of deur weerwraak van iemand anders op die toneel getref is.”
Netshiunda sê die motief vir die moorde is deel van die polisie se ondersoek, maar die vermoede is die insident kon moontlik veediefstalverwant wees. Die oorledenes was lede van die gemeenskap se teen-veediefstal-groep.
Die verdagte sal in die hof verskyn wanneer hy genoegsaam herstel het. Enigiemand met inligting oor die ander verdagtes word gevra om na vore te kom en die polisie so in hulle ondersoek te help.