OOS-KAAP. – Neliswa Nofilita (43), wat lank as een van die Valke se mees gesoekte verdagtes bekend was, is Dinsdag in Noordwes opgespoor en sal na Oos-Londen vervoer word om in die hof te verskyn.
Lt.kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder, sê die deurbraak is gemaak nadat ‘n wenk ontvang is. ‘n Jarelange soektog is met die inhegtenisneming beëindig. Nofilita het glo die Suid-Afrikaanse Inskomstediens uit meer as R1.5 miljoen verkul. Sy is oorspronklik in Februarie 2021 op ses aanklagte van bedrog en die oortreding van die belastingadministrasiewet in hegtenis geneem. Nofilita het glo tussen 2014 en 2015 vals eise aan SAID voorgelê en voorgegee dat sy nie sake gedoen het of BTW ingevorder het nie. Ondersoeke het later bewys dat sy wel sake gedoen en BTW ingevorder het, maar dit nie aan SAID oorbetaal het nie, wat tot ’n tekort van meer as R1,5 miljoen gelei het.
Ná haar eerste hofverskyning het sy egter verdwyn. ’n J165-lasbrief is uitgereik en later omgeskakel na ’n J50-lasbrief, wat dieselfde doel het om inhegtenisneming te verseker, nadat verskeie pogings om haar op te spoor misluk het.
Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya, provinsiale hoof van die Valke, het gesê: “Hierdie inhegtenisneming stuur ’n duidelike boodskap: jy kan hardloop, maar jy kan nie wegkruip nie. Maak nie saak hoe lank dit neem nie, die Valke sal jou opspoor. Geregtigheid wat vertraag word, is nooit geregtigheid wat ontken word nie.”





