OOS-KAAP. – ‘n Mees gesoekte verdagte (25) wat sedert 2020 vir ernstige en geweldsmisdade gesoek word, is Dinsdag omstreeks 11:00 in Mjikelweni gearresteer.
Kapt. Welile Matyolo sê Qumbu-polisie het die verdagte op aanklagte van ‘n dubbelmoord, drie aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ‘n poging tot moord wat die maand gebeur het, vasgetrek. Die misdade is in Qumbu gepleeg, waarna speurders ‘n wenk ontvang en deur vinnige optrede sukses verseker het.
Tydens die inhegtenisneming is daar op ‘n ongelisensieerde AK47-aanvalsgeweer en twee 9 mm-pistole beslag gelê. Die vuurwapens se reeksnommers is afgevyl en dit sal vir ballistiese toetsing gestuur word om vas te stel of dit in misdade gebruik is.
Die verdagte sal binnekort in die Qumbu-landdroshof verskyn.





