GAUTENG. – Die Mej. Suid-Afrika-organisasie het ná kritiek oor Tiyani Makamu se kroon en rok by die 2026-kroning verduidelik dat die 27-jarige van Gauteng ’n tydelike seremoniële kroon gedra het. Die Facebook-blad Mej. Kroon het Makamu met haar oorwinning gelukgewens, maar geskryf haar rok en kroon is “nie juis iets om oor huis toe te skryf nie”. Die blad het bygevoeg: “Die vere maak nie die voël nie.”
Onder die foto’s van die gaste by die geleentheid op die rooi tapyt wemel dit van kommentaar dat die gaste beter as die deelnemers gelyk het.
Die organisasie het ook die beoordelingsproses verdedig. Volgens die verklaring het ’n onafhanklike paneel die 12 finaliste volgens vasgestelde kriteria beoordeel en saam oor die uitslag besluit. Skoonheid, elegansie, selfvertroue en verhoogteenwoordigheid bly volgens die organiseerders belangrik, saam met leierskap, medemenslikheid en die vermoë om goed te kommunikeer. Die wenner moet as nasionale ambassadeur ook belangrike sake kan bevorder, veral dié wat meer geleenthede vir vroue en jongmense skep.
Die organiseerders sê hulle staan by Makamu se aanwysing en vra dat sy die ondersteuning kry om haar jaar as Mej. Suid-Afrika met waardigheid te begin. Volgens die verklaring sal Suid-Afrikaners in die komende weke meer oor haar agtergrond, haar doelwitte en die sake waarvoor sy haar wil beywer, te wete kom.
Die Mej. Suid-Afrika-organisasie sê Makamu ontvang R1 miljoen in kontant en het toegang tot R500 000 vir goedgekeurde projekte. Die organisasie bestuur dié fonds en stel geld in fases beskikbaar namate projekdoelwitte bereik word.
Cilliers Brink, die DA se burgemeesterskandidaat vir Tshwane het Makamu geluk toegewens: “Congratulations to Tiyani Makamu, Bronkhorstspruit resident and our new Miss South Africa.”


