GAUTENG. – ‘n Beweerde mensehandelsindikaat is Donderdagaand in Sandringham, Johannesburg, ontbloot. 15 nakende persone, vermoedelik Ethiopiërs, is in ‘n huis aangetref. Nog 11 slagoffers moes mediese hulp ontvang.
Kol. Philani Nkwalase van die Valke sê ‘n gesamentlike operasie tussen die Sandringham-polisie, Gauteng-Valke, Johannesburg-metropolisie (JMPD) en ‘n privaat veiligheidsmaatskappy, het tot dié sukses gelei. ‘n Wenk is omstreeks 21:00 van bure oor verdagte aktiwiteit by ‘n huis in Lusterstraat ontvang. Met aankoms is die slagoffers aangetref.
Die voorlopige ondersoek dui aan die slagoffers het ‘n venster en diefwering gebreek en uit die huis waar hulle aangehou is, ontsnap. Sommige was in die gebied naby die misdaadtoneel, maar ander het gevlug. ‘n 9 mm Tokarev-pistool en ‘n magasyn sonder ammunisie is deur die polisie gekonfiskeer. Die 26 ongedokumenteerde persone word geprosesseer om hulle status vir hulle aanwesigheid in Suid-Afrika as slagoffers van mensehandel vas te stel.
“Die publiek word versoek om enige persoon wat sonder klere in die area gesien word by die owerhede aan te meld, aangesien hulle met die voorval verbind kan word.”
Nkwalase sê drie verdagtes is op aanklag van beweerde mensehandel en die onwettige besit van ‘n vuurwapen in hegtenis geneem.