LIMPOPO. – Menslike oorskot is Woensdag in bosse langs ‘n inisiasieskool in Stocking Mbabalelo in die Burgersfort-polisiëringsarea gevind. Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
Kol. Malesela Ledwaba sê persone van die inisiasieskool was besig om hout vir vuur op te tel toe daar glo op die menslike oorskot afgekom is. ‘n Skedel sowel as mans- en vroueklere is gevind. Dit sluit ‘n grys broek, rooi trui, grys kouse en ‘n grys tradisionele vroulike uitrusting in.
“Dit wil voorkom of die beendere vir ‘n lang tydperk op die toneel was.”
Ledwaba sê omstandighede van die vonds word ondersoek. Die identiteit van die oorledene moet nog vasgestel word.
Enigiemand met inligting word gevra om speur.kol. Ngele Mahlathini by 082 573 3645 te bel.







