GAUTENG. – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) het sy kommer uitgespreek oor ’n aantal verkeersongelukke hierdie week, waarby minibustaxi’s betrokke was en ten minste 22 mense regoor die land se lewens gekos het.
Volgens Motlhabane Abnar Tsebe, Santaco-president, het sewe mense Sondag gesterf toe ’n minibustaxi en ’n sportsnutvoertuig op die pad tussen Dullstroom en Belfast in Mpumalanga gebots het. Die taxi het passasiers van Limpopo na Gauteng vervoer.
Woensdag het nog sewe mense in Bassonia, suid van Johannesburg, in ’n botsing tussen ’n minibustaxi en ’n bakkie gesterf. In die mees onlangse ongeluk Donderdag, op die N3 naby Swinburne, tussen ‘n minibustaxi en ’n vragmotor, het agt mense gesterf en verskeie ander is beseer.
“Hierdie voorvalle herinner ons daaraan dat padveiligheid ’n verantwoordelikheid van almal is en dringende aandag verg. Ons is daartoe verbind om veiligheid te bevorder en vertroue in die vervoersektor te herbou,” het Tsebe gesê.
Santaco sê hulle sal die Hlokomela-programme vir padveiligheid en bestuurderopleiding verskerp, streng kontroles op padwaardigheid en lisensies instel en saam met wetstoepassers werk om bestuurders aanspreeklik te hou. Die raad het sy meegevoel aan die families van die slagoffers oorgedra en spoedige herstel aan die beseerdes toegewens.

