‘Moenie iemand se baba soen nie’ sê ouers na baba herpesvirus in oog kry

Lees ook :

Foto: Michelle Saaiman Facebook

NAMIBIë. – Michelle en Neels Saaiman van Windhoek het ‘n sosialemediaplasing gemaak nadat hulle vir die afgelope sewe maande die nagevolge hanteer wat hulle babaseun (1) ondervind nadat hy die herpesvirus in sy oog opgedoen het.

Die ouers vertel van hulle ervaring met die doel om mense bewus te maak van die gevare wat ‘n “onskuldige” soen kan inhou. Wat na ‘n ooginfeksie by hulle kind gelyk het, het in ‘n oop wond ontwikkel. Die ouers maak nie normaalweg persoonlike plasings oor hulle kinders op sosiale media nie, maar voel dit is nodig dat mense moet verstaan hoekom iemand anders se baba nie gesoen moet word nie. Die plasing is reeds ‘n allemintige 47 000 keer op sosiale media gedeel.

Michelle sê in die plasing sy het voorheen baie daaroor gelees, maar dit het haar nie soseer gepla nie, sy het die houding gehad van wat is die ergste wat kan gebeur? Sy erken sy was verkeerd.

Ongeveer 7 maande gelede het die Saaimans se babaseun, toe 1 jaar en 4 maande oud, ‘n “ooginfeksie” ontwikkel, waarvoor die gesin se huisdokter antibiotiese oogdruppels voorgeskryf het. Twee dae later het die ouers opgemerk iets ernstigs is met hulle baba se oog verkeerd – dit het voorgekom asof iets in die oogbal groei. Hulle het besef daar is nie gevoel in die ogie nie, aangesien hulle baba dit gekrap het, sonder om te reageer. Daar is dadelik weer met die huisdokter gekonsulteer, wat uiters bekommerd gelyk het en dadelik gereël het dat hulle ‘n oftalmoloog gaan spreek.

By die oftalmoloog is die herpesvirus in die babaseun se linkeroog gediagnoseer. Michelle sê: “Ja, herpesvirus – soos die een wat koorsblare op lippe veroorsaak. Ek het nog nooit van iets so belaglik gehoor nie. Ek bedoel, regtig, ‘n koorsblaar wat op sy kornea groei!!!???”

Michelle sê na maande se trauma, behandeling, baie onkostes vir medikasie, twee keer in die operasiesaal, hospitalisasie, biopsie en spesialisbesoeke, wat die ondersteuning van ‘n Amerikaanse spesialis insluit, is die virus uiteindelik in remissie.

“Die vreesaanjaendste deel is dat hierdie virus, as dit onbehandel gelaat word, na die brein kan migreer. Baie ander komplikasies kan ook intree. Aangesien die herpesvirus nie regtig ‘genees’ kan word nie, net ‘bestuur’ kan word, is dit geneig om elke nou en dan op te vlam, wat ongelukkig is wat met ons baba gebeur het.”

Weens die virus het die kleinding ‘n sigbare oop wond in sy kornea. Michelle sê hulle baba het die meeste van sy visie en gevoel in sy ogie verloor en kry dikwels ‘n infeksie. Sy sê indien die wond nie gesond word nie, gaan hulle baba sy ogie verloor.

Verskeie dokters het aan die ouers bevestig die herpesvirus kon slegs deur iemand met ‘n aktiewe koorsseer, wat hom op of naby sy oog gesoen het, of op sy hand, waarna hy aan sy ogie geraak het, oorgedra gewees het.

Op 17 Februarie het hulle met hulle babaseun na SA gevlieg om ‘n pediatriese oftalmoloog te spreek. Die baba het reeds die eerste van drie operasies, in ‘n poging om sy ogie te red, ondergaan.

“Die tweede operasie behels die oes van senuwees van sy been, en die inplanting daarvan in die oog.
As daardie prosedure suksesvol is, sal hy uiteindelik (en hopelik) vir ‘n kornea-oorplanting in aanmerking kom, mits ‘n geskikte skenker gekry word. Ons baba se ooglede is toegewerk om die oog te beskerm, maar ek kan net dink hoe ongemaklik dit vir hom moet wees. Of enige visie ooit herstel kan word, is in hierdie stadium onbekend, maar ons het vrede gemaak met die feit dat hy heel moontlik (permanent) blind in sy linkeroog kan wees. Ons hoofprioriteit in hierdie stadium is net om die oog self te red en om verdere infeksies te voorkom.”

Die ouers se raad is dat ouers nie moet toelaat dat enigeen hulle baba soen nie.

“So ‘n simpel virus het soveel trauma en skade veroorsaak, dis net nie die moeite werd nie!”

Die gewilde egpaar Jannes Erasmus en Bernice West het onlangs vir baba Lua verwelkom. Pappa Jannes het onomwonde op 3 Januarie ‘n sosialemediaplasing gemaak en gesê hy laat niemand toe om selfs net vir sy baba in ‘n stootkarretjie of onder ‘n kombers te loer nie. Hy het prontuit gesê geen persoon het die toestemming om na sy baba te loer nie en gaan ook nie toestemming van hom kry nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief