WES-KAAP. – Die saak waarin ‘n minderjarige verdagte (17) vandag in die Caledon-landdroshof verskyn het vir die moord op Deveney Nel (16) is tot 18 September uitgestel.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die saak is vir verdere ondersoek uitgestel. Die minderjarige vedagte sal by ‘n kinder- en jeugsorgsentrum, ‘n veilige sorgsentrum vir verhoorafwagtende minderjariges, in aanhouding bly.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Deveney Nel (16) van Hoërskool Overberg in Caledon is op 7 Augustus vermoor in ‘n stoorkamer by haar skool gekry nadat sy die middag vermis is. Die polisie het ‘n 17-jarige verdagte vir die moord in hegtenis geneem.
Brig. Novela Potelwa sê na ‘n behoorlike ondersoek het speurders Vrydagaand ‘n verdagte in hegtenis geneem en vir die moord aangekla. Die verdagte sal Maandag in die Caledon-landdroshof verskyn.
“Sedert die ontdekking van die liggaam van die vroulike leerder, is speurders van ernstige geweldsmisdade hard aan die werk om verskeie leidrade te ondersoek.”
Die oorledene is die betrokke Woensdag, nadat sy nie van die skool af by die huis aangekom het nie, deur haar ma by die Grabouw-polisie as vermis aangemeld.
‘n Vermistepersoonverslag is voltooi en gesirkuleer, waarna ‘n soektog deur die polisie na die meisie geloods is. Die meisie se liggaam is later deur die soekgeselskap in ‘n stoorkamer op die skoolperseel gevind. Sy is op die toneel dood verklaar. Die oorledene is as die vermiste meisie geïdentifiseer.
Enigiemand met inligting van die noodlottige insident word gevra om die ondersoekbeampte, speur.brig. Leon Hanana, by 082 522 2281 te bel.
Terwyl Hoërskool Overberg “soort van” na normaal terugkeer en nie meer ‘n misdaadtoneel is nie, sê die skoolhoof dit is ‘n tydperk van rou, hartseer, maar ook van bou en herstel.
Deveney Nel, ‘n gr. 10-leerder, het nie ná haar skool se sportwedstryde vir haar geleentheid huis toe opgedaag nie. Sy is as vermis aangemeld, maar haar liggaam is Woensdag op die skoolperseel in ‘n stoorkamer gevind. Die skool was Donderdag as ‘n aktiewe misdaadtoneel gesluit.
Johan Jacobs, die skoolhoof van Hoërskool Overberg, sê aan Nuusflits: “In hierdie hartseer tyd gaan ons harte uit aan die Nel-familie, ons leerders en ons ouers.”
Kapt. Frederick van Wyk sê die ondersoekbeampte in die moordsaak volg alle leidrade op. Enigiemand met inligting van die noodlottige insident word gevra om brig. Leon Hanana by 082 522 2281 te bel.
Bronagh Hammond, woordvoerder vir onderwys in die provinsie, sê sielkundiges en maatskaplike werkers staan die leerders van die skool en die gemeenskap by.
David Maynier, minister van onderwys in die provinsie, sê daar is kontak met Anroux Marais, die provinsiale minister van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, wat ondersteuning bied en sê die ondersoek van die polisie sal gemonitor word.
Die departement vra vir privaatheid terwyl die familie, vriende en personeel die verlies hanteer. Ondersteuning is hierdie week steeds aan die skoolhoof, sy personeel en leerders beskikbaar.
“Alhoewel daar groot belangstelling in hierdie saak is, is en sal die welstand van ons leerders en personeel ons sleutelprioriteit bly. Ons sal die uitslag van die SAPD-ondersoek afwag: die oortreder van hierdie verskriklike misdaad moet voor die hof gebring word.”





