VRYSTAAT. – Tshedisa Abam, alias Alex Mpasi (44), is tot 23 jaar direkte gevangenisstraf vir die moord op Sinah Bantjies (34) gevonnis. Bantjies se liggaam was in sellofaan toegedraai en met modder bedek toe sy gevind is.
Sers. Mahlomola Kareli sê die Kopanong-polisie het op 24 Desember 2023 inligting ontvang van ‘n toegedraaide liggaam in ‘n shack in Caleb Morshabi. Die shack was gesluit, maar sleepmerke het na ‘n puttoilet gelei waar op Bantjies se liggaam afgekom is.
Die verdagte is opgespoor en in hegtenis geneem. Deur sers. Sechaba Matli en adv. Didi van die NVG is die verdagte skuldig bevind en in die Bloemfontein-hooggeregshof gevonnis. Abam is tot 20 jaar vir moord en vir regsverydeling ‘n verdere drie jaar gevonnis.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Sinah Bantjies (34) se liggaam is Sondag in kleeflint toegedraai in ‘n puttoilet in Caleb Motshabi ontdek.
Sers. Mahlomola Kareli sê Kopanong-polisie het inligting ontvang van ‘n vrou wie se liggaam in kleeflint toegedraai was in ‘n shack.
Met aankoms op die toneel was die shack toegesluit, maar die polisielede het sleepmerke na die puttoilet gesien. Ondersoek is ingestel en die liggaam is in modder in die puttoilet ontdek.
Kort na die ontdekking het die speurders van Kopanong ‘n beweerde verdagte (43), wat glo van die toneel gevlug het, in Botshabelo in hegtenis geneem.
Die verdagte sal na verwagting binnekort op ‘n aanklag van moord in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.





