MPUMALANGA. – Sarel Petrus du Plessis (53) is Dinsdag op verskeie aanklagte in die Hooggeregshof op Middelburg gevonnis. Hy het Bhekimuzi Ziko (14) op 5 Desember 2018 doodgeskiet.
Kol. Donald Mdhluli sê Du Plessis het op die betrokke dag, omstreeks 16:00 op ‘n plaas in Kamhlushwa in die Nkomazi-area as sekuriteitswag die minderjarige met ‘n ongelisensieerde vuurwapen doodgeskiet. Ziko, sy broer en vriende was op die plaas toe die skietery plaasgevind het. Du Plessis het probeer om die ander persone wat saam met Ziko was ook dood te maak, maar hulle kon daarin slaag om te vlug.
Die beskuldigde is op 8 Desember in hegtenis geneem en is op 20 Junie 2023 skuldig bevind.
Du Plessis is lewenslank vir moord, op drie aanklagte van poging tot moord 10 jaar elk, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen 5 jaar en die besit van ongelisensieerde ammunisie 3 jaar, gevonnis. Die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Al die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die provinsiale kommissaris, het die vonnis verwelkom.
“Die onderwerp rakende vuurwapens is vir ons ‘n bekommernis omdat hierdie wapens dikwels in die pleeg van geweldsmisdade gebruik word. Ons hoop dat hierdie vonnis op een of ander manier afsluiting vir die slagoffer se familie sal bring.”