Mosambiekse renosterstroper gevonnis

Lees ook :

Foto: NVG

MPUMALANGA. – Silas Mathebula (38), ‘n Mosambiekse burger, is in die Skukuza-streekhof tot 30 jaar direkte tronkstraf, vir onder meer die dood van drie renosters gedurende 2019, gevonnis.

Monica Nyuswa, woordvoerder vir die NVG, sê Mathebula is vir stroper-verwante misdade, insluitend betreding, samewering om misdaad te pleeg, die dood van drie renosters, die besit van ‘n onwettige vuurwapen, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, besit van ‘n jaggeweer en die besit van ammunisie, skuldig bevind en gevonnis.

‘n Veldwagter op patrollie in die Malelanegebied het op 23 November 2019 ‘n verdagte voertuig met vyf insittendes opgemerk. Die voertuig is voorgekeer en deursoek, waartydens ‘n geweer, ammunisie en ses vars renosterhorings aangetref is. Al vyf die insittendes is gearresteer. Die beskuldigdes is as Zwelithini Mathebula, Lucky Mhlongo, Teddy Dlamini, Silas Mathebula, en Forster Lubisi geïdentifiseer.

Nyuswa sê Lubisi is deur ‘n krokodil doodgemaak toe hy probeer ontsnap het. Hlungwane en Mathebula het op die vlug geslaan nadat borg aan hulle toegestaan is. Die drie ander beskuldigdes is egter in die Skukuza-landdroshof skuldig bevind en gevonnis.

Mathebula is intussen vir soortgelyke misdade in die Hluhluwe-natuurreservaat in KwaZulu-Natal gearresteer nadat hy gevlug het. Hy is na Skukuza oorgeplaas om verhoor te word. Getuienis van die veldwagter is aangehoor en DNS-ontleding het boonop bevestig die renosterhorings in die beskuldigdes se besit en die renosterkarkasse stem ooreen. Ballistiese toetsing het verder bewys die koeëls wat in die karkasse gekry is, stem ooreen met die ammunisie wat deur vuurwapens in die besit van die beskuldigdes afgevuur is.

Mathebula is verder tydens vonnisoplegging onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief