PRETORIA, GAUTENG. – ’n Motoris is doodgesteek en drie ander insittendes beroof nadat hulle voertuig glo deur skerp voorwerpe op die N4 naby die Donkerhoek-afrit in Pretoria-Oos tot stilstand gedwing is.
Gauteng se verkeerspolisie sê die voorval het Sondagaand om 22:00 plaasgevind.
Volgens Jean Jonker van Boschkop-gemeenskapspolisiëringforum het die vier insittendes van die pad afgetrek om hulle voertuig se pap band om te ruil toe hulle oorval is.
Twee verdagtes het glo agter bosse uitgekom en hulle van hulle selfone en besittings beroof. Een van die insittendes van die voertuig is noodlottig gesteek.
Die SAPD en ander privaat veiligheidsmaatskappye was volgens Jonker vinnig op die toneel, maar die verdagtes het gevlug.
Motoriste word gemaan om so ver as moontlik na ’n plek van veiligheid te ry indien hulle ’n pap band het.
Bronne: GAC Risk Solutions, Citizen, Pretoria Rekord, Boschkop CPF





