GAUTENG. – ‘n Motoris het glo gistermiddag drie vermeende kapingsverdagtes by die Diepkloof-kruising doodgeskiet toe hy gesê is dat hy gekaap is.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê aan Nuusflits die man was na bewering besig om op die hoofweg te bestuur toe insittendes van twee voertuie vir hom iets wat soos ‘n polisie-aanstellingsertifikaat lyk, gewys het en aangedui het om te stop. Toe hy stilhou, het drie mans van ‘n rooi Kia Rio hom genader en gesê daar is iets onder sy voertuig fout. Hy het gebuk om ondersoek in te stel, waarna hy met ‘n mes gedreig en beveel is om nie te beweeg nie. Daar is vir hom gesê hulle soek sy voertuig en nie vir hom nie.
“Die man, wat ‘n vuurwapen op sy middel gehad het, het dadelik gereageer en begin skiet. Die verdagtes van ‘n ander voertuig (‘n blou Ford Focus) het ook teruggeskiet terwyl hulle weggery het.”
Drie verdagtes is op die toneel dood verklaar.
Nevhuhulwi sê die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en poging tot kaping. Enigiemand met relevante inligting word versoek om na vore te kom.
“Motoriste word weereens versoek om waaksaam te wees wanneer hulle bestuur en om enige verdagte aktiwiteite aan te meld.”
Nuusflits het grafiese beeldmateriaal van die toneel ontvang.





