Motoriste aangemoedig om kinders teen ongelukke te beskerm ná 31 in Mpumalanga sterf

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

MPUMALANGA. – Motoriste word deur Jackie Macie, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, aangemoedig om kinders tydens die komende winterskoolvakansie teen noodlottige padongelukke te beskerm ná 31 kinders hul lewens tussen Januarie en Mei vanjaar in padongelukke in die provinsie verloor het.

Junie is in Suid-Afrika bekend as Jeugmaand en die land het van 29 Mei tot 5 Junie Kinderbeskermingsweek met die tema “Saamwerk om Geweld teen Kinders te Beëindig” gevier.

Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die meeste van die 31 kindersterftes was in Januarie met 11 en April met agt gevalle. Die feesseisoen en Paasvakansie het ook ’n groter aantal kinderbeserings opgelewer as ander maande.

“Ons is bewus daarvan dat baie mense vir ontspanning of om familie te besoek met kinders na verskeie bestemmings sal reis. Om hul bestemmings te bereik, sal hulle met openbare of private voertuie vervoer moet word. Ons moet verseker dat kinders gedurende hierdie winterskoolvakansie en daarna veilig vervoer word,” het die LUR gesê.

Die LUR beklemtoon alle motoriste het ’n rol om te speel om kindersterftes te voorkom wat uit roekelose en onbedagsame bestuurdersgedrag spruit. Hy het ouers ook gewaarsku om nie jong mense sonder bestuurslisensies toe te laat om voertuie te bestuur nie. Hy het verder aangedui wetstoepassers en nooddienste sal die paaie fyn monitor om wetstoepassing te verseker en op enige situasies te reageer.

Intussen het die LUR ook ’n beroep gedoen op motorfietsryers en motoriste wat hierdie naweek in Mbombela vir die jaarlikse byeenkoms van motorfietsryers gaan saamtrek, om hulle verantwoordelik te gedra.

Motoriste wat beplan om hierdie langnaweek op die pad te gaan, is ook aangeraai om hul ritte deeglik te beplan.

Die LUR het die volgende wenke gedeel:

  • Beplan jou roete sodat jy voldoende langs die pad kan rus
  • Pas jou bestuurstyl by weerstoestande en padwerke aan
  • Maak seker jou voertuig is padwaardig
  • Maak seker dat jou voertuig verseker is en dat jy in noodgevalle padbystand het
  • Wees altyd per selfoon bereikbaar
  • Moenie duimryers oplaai nie (dit kan jou kwesbaar maak vir kapings)
  • Ry indien moontlik in daglig
  • Verminder snelheid in nat weer en op onbekende paaie
  • Moenie boodskappe op ‘n selfoon stuur terwyl jy bestuur nie
  • Handhaaf ’n veilige volgafstand
  • Skakel hoofligte aan in swak weerstoestande
  • Maak seker veiligheidsgordels word gebruik en vervoer kinders in toepaslike kinderstoeltjies

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief