KWAZULU-NATAL. – Sipho “Smirnoff” Mhlanga (37) is tot 53 jaar tronkstraf deur die Mtubatubu-landdroshof op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en ontvoering gevonnis.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê Mhlanga is gedurende Augustus 2023 in hegtenis geneem. Hy is aan ‘n sindikaat wat gekaapte voertuie deur verskeie SA-grensposte na Mosambiek smokkel, gekoppel. Mhlanga was sedert sy inhegtenisname in aanhouding, totdat hy vonnis opgelê is.
Vusi Amos Malwane, Mhlanga se makker, is in Junie 2023 deur die Ingwavuma-landdroshof tot 55 jaar tronkstraf gevonnis.
Die nasionale taakspan wat in die noordelike dele van KZN in Februarie 2023 ontplooi is, het reeds 276 verdagtes in hegtenis geneem, waarvan 107 steeds in aanhouding is. Altesaam 150 gekaapte en gesteelde voertuie is sedertdien teruggevind. Die meeste van die voertuie is 4 X 4’s, 93 is sportnutsvoertuie en 4 X 4 en 57 is ligte motorvoertuie. Van hierdie teruggevinde voertuie is 135 aan hul regmatige eienaars teruggegee.
Mathe sê 70 onwettige en ongelisensieerde vuurwapens, waaronder 14 gewere, is ook gekonfiskeer.
“Daar is ‘n gesamentlike aksieplan in plek tussen die Mosambiekse polisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat daarop gemik is om transnasionale misdaad in beide lande aan te spreek.”
“Die gesamentlike aksieplan het ten doel om te verseker dat ‘n toegewyde span van beide lande op ‘n gereelde basis vergader om gesamentlike oorgrensoperasies uit te voer met die doel om oorgrensvoertuigsmokkelary, -ontvoerings en veediefstal te voorkom en te bekamp.”





