GAUTENG. – Suid-Afrika het teen Donderdag 18 bevestigde gevalle van mpox (vroeër bekend as aappokke) en een waarskynlike geval aangeteken. Die departement van gesondheid waarsku dat 13 van die gevalle tussen 13 Augustus en 17 September aangemeld is, wat op vinnige plaaslike verspreiding dui.
Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê 15 gevalle is in die Wes-Kaap, hoofsaaklik Kaapstad, aangemeld, terwyl drie in Gauteng en een in KwaZulu-Natal is. Die pasiënte is tussen 23 en 50 jaar oud en 18 is mans. Mpox kan deur noue fisieke kontak met ’n besmette persoon versprei, asook deur besmette klere, beddegoed en handdoeke. Simptome sluit koors, hoofpyn, spierpyne, moegheid en veluitslag of letsels in.
Mense met simptome, veral ná kontak met ’n bevestigde of vermoedelike geval, moet onmiddellik mediese hulp kry en noue kontak met ander vermy. Die regering het met ondersteuning van die Wêreldgesondheidsorganisasie beperkte hoeveelhede mpox-entstof en behandeling bekom as deel van die reaksie op die uitbreking.