GAUTENG. – Drie werknemers van die Stad Tshwane-munisipaliteit is vanoggend (Dinsdag) ná ‘n deeglike ondersoek deur die georganiseerde misdaadeenheid in Gauteng op ‘n klag van diefstal in hegtenis geneem.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die inhegtenisneming volg op ’n ondersoek wat in November verlede jaar begin het, waartydens 11 verdagtes aanvanklik vir die diefstal van ’n transformator ter waarde van ongeveer R7 miljoen by die Laudium-substasie in hegtenis geneem is. Die 10 verdagtes wat onderkontrakteurs was, is vrygelaat nadat hulle nie met die misdaad verbind kon word nie. Een verdagte, ’n werknemer van die munisipaliteit, het in aanhouding gebly en was reeds verskeie kere in die hof. Hy bly tot die volgende hofverskyning op 8 Augustus in aanhouding.
Die drie wat vandag in hegtenis geneem is, sal van die diefstal van noodsaaklike infrastruktuur aangekla word en sal na verwagting op Woensdag 2 Julie in die Pretoriase-landdroshof voorkom. Verdere inhegtenisnemings word verwag namate die ondersoek vorder.
Lees meer oor die voorval hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





