KYK: My f*k, Marelize!

Lees ook :

Toe ’n selfoonvideo van ’n meisie wat met haar fiets reguit in ’n rugbypaal vasry in 2019 aanlyn verskyn het – met haar ma se onvergeetlike uitroep: “My f*k, Marelize!” – het dit onmiddellik ’n internetsensasie geword.

Maar agter dié video wat die land laat skater het, lê daar ’n gesin met hul eie verhaal van menswees. Regisseur Zandré Coetzer bring hierdie Namibiese familieverhaal na die grootskerm met My fk, Marelize!*, ’n hartroerende én humoristiese film, geïnspireer deur die Horn-gesin.

Zandré vertel meer:

Je-ani Swiegelaar vertolk die rol van die ma, Heidi, en Zandélle Meyer is Marelize. Hoe het julle die rolverdeling benader?
Die rolverdeling was absoluut sentraal. As jy regte mense uitbeeld, soek jy meer as net talent of iemand wat soos die karakter lyk. Ek het geweet ek het ’n grimering- en garderobe-span wat magic kan maak, maar wat ons regtig gesoek het, was teenwoordigheid en egtheid.

Ons het nie op voorkoms gefokus nie, maar eerder op die energie tussen die akteurs voor die kamera. Ek het Je-ani reeds jare gelede ontmoet tydens oudisies en was toe al beïndruk. Hierdie keer was die tyd reg – en gelukkig was ’n speelfilm op haar wenslys. Sy, saam met Zandélle, Neels Clasen en Nichola Viviers, het die Horns se dinamika met humor, siel en opregtheid vasgevang. Dit was ’n ongelooflike rolverdeling.

Hoe balanseer jy vermaak met respek wanneer jy regte mense in ’n speelfilm uitbeeld?
Dis ’n fyn lyn. As jy dit nie met respek doen nie, stel jy die mense agter die storie teleur. Ons het die storie benader soos iemand wat ’n mal aand oorvertel – dalk dramaties of deurmekaar, maar met die gevoel van waarheid.

Ons het doelbewus vermaaklike elemente ingesluit, maar altyd met die Horns se essensie in gedagte. Die film moes voel soos ’n tuisvideo – eerlik en intiem. Ons het selfs by die kankerorganisasie waar Heidi werklik behandeling ontvang het, gaan skiet. Baie van wat in die draaiboek gebeur het, is gebaseer op ware gebeure – dalk net nie almal in dieselfde week of jaar nie.

Wat het julle in hierdie storie laat belangstel en hoekom werk dit as speelfilm?
Ek en die draaiboekskrywer, Brett Michael Innes, wou lankal saamwerk – soos mense wat aanhou sê hulle gaan nog saam braai. Brett het lank ná die video verskyn het nog daaraan gedink en toe begin hy met Marelize gesels. Ons het Namibië toe gegaan om die Horns te ontmoet.

By hul huis, in Tiaan (Marelize se pa) se kroeg, het ons stories gedeel en besef daar’s baie meer aan hierdie gesin as net ’n snaakse video. Hulle het my herinner aan vakansies by my ouma – met kos, speelkaarte en liefde sonder woorde. Brett het later gesê ek moet regisseer, want ek verstaan hul hart.

Ons wou nie nog ’n disfunksionele gesin uitbeeld nie, maar iets wys wat warm, herkenbaar en liefdevol is. Die Horns is ’n gesonde, goeie familie.

Het julle van die begin af daardie lae in die film gesien, of het dit later ontwikkel?
Ons het met ’n raamwerk begin, maar dit het verdiep toe ons die Horns ontmoet. Hulle het ons hul storie toevertrou en ek is baie dankbaar daarvoor. Hulle was nie betrokke by die verfilming nie, maar het ons visie volkome vertrou. Hulle het nog nie eens die finale film gesien nie, só groot is hul vertroue.

Wedersydse respek en oop kommunikasie was noodsaaklik. Ons doel was om ’n film te maak wat mense inspireer en herinner aan ’n eenvoudiger tyd, voor alles oor tegnologie gegaan het.

Hoekom dink jy het Heidi en Marelize ’n sensasie geword? Wat het dit by mense ontlok?
Dit was daardie perfekte epic fail-oomblik – iets waarna mense op sosiale media smag. Maar wat dit spesiaal gemaak het, was Heidi se eerlike, rou reaksie. Iets in haar uitroep was só menslik en universeel, dat mense onmiddellik aanklank gevind het.

Ek dink dit het mense laat besef dis oraait om foute te maak. Om jouself te wees. Om ’n bikini aan te trek al voel jy nie perfek nie. Die video het iets oopgebreek van menslikheid en selfaanvaarding en dít is die kern van die film.

By familie kan jy jouself wees. Hulle rol hul oë, maar hulle is daar – onvoorwaardelik. Dis daardie warmte wat ons hoop kykers sal ervaar met My f*k, Marelize!.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

One Response

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief