WES-KAAP. – Vroue wat hulp vir verslawing probeer kry, word dikwels deur stigma, vrees vir oordeel, finansiële probleme, vervoerkoste en ’n gebrek aan kinderversorging verhinder om behandeling te ontvang.
Dr. Danyschka Jacobs van die Universiteit Stellenbosch se departement maatskaplike werk, se navorsing werp lig op die dringende behoefte aan vrougesentreerde verslawingsorg.
Lees die volledige persverklaring hier onder:
Navorsing werp lig op dringende behoefte aan vrougesentreerde verslawingsorg
- Vroue soek dikwels nie hulp nie weens stigma, vrees vir oordeel, vrees om hulle kinders te verloor.
- Baie kom nie by behandeling uit nie; raak weg ná inname met min opvolgwerk.
- Huidige dienste nie altyd doeltreffend, veilig of toepaslik vir hulle nie.
- Behandelingsruimtes spesifiek vir vroue baie beperk.
Vroue wat toegang tot behandeling vir verslawing probeer kry, kom dikwels voor veelvuldige, oorvleuelende hindernisse te staan – van stigma en vrees om as slegte, onverantwoordelike of moreel gebrekkige ma’s beoordeel te word, tot hoë vervoerkoste en ʼn gebrek aan geld, kinderversorging en voldoende verblyf. Om sake te vererger, is huidige dienste nie altyd doeltreffend, veilig of toepaslik vir vroue nie.
Dít is volgens dr. Danyschka Jacobs van die departement maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat onlangs haar doktorsgraad in maatskaplike werk aan die US verwerf het. Sy het op die uitdagings gefokus waarmee vroue in die Wes-Kaap te kampe het wanneer hulle behandeling vir verslawing probeer bekom.
Jacobs, wat ook ʼn verslawingberader is, sê dit het uit haar werk in gemeenskappe en gesprekke met kliënte en gesinne duidelik geword dat vroue middels gebruik, maar nie by behandeling uitkom nie. Selfs al het hulle toegang tot behandeling gekry, het talle van hulle ná inname weggeraak en is min opvolgwerk gedoen.
Volgens Jacobs besef ons dikwels nie dat trauma, stigma, versorgingsverantwoordelikhede en armoede vroue se ervaring van verslawing op diep verweefde maniere vorm nie.
“Middelgebruik is vir baie vroue nie net vir ontspanningsdoeleindes of impulsief nie, maar word dikwels geassosieer met oorlewing, ʼn hanteringsmeganisme, onveilige verhoudings, trauma, onstabiele verblyf en die druk om vir kinders of gesinslede te sorg. Hierdie faktore maak toegang tot behandeling én herstel moeiliker.
“Vroue het dit dikwels uitgestel om hulp te soek uit skaamte, vrees vir oordeel, vrees om hulle kinders te verloor, of omdat behandeling finansieel en prakties buite hulle bereik was weens vervoer- en kinderversorgingskoste.
“Vroue wat wel opgeneem is, was dikwels baie wantrouig oor dienste en as programme nie erkenning aan trauma verleen het of sensitief vir hulle werklikhede was nie, het die behandeling self nóg ʼn hindernis eerder as ʼn bron van ondersteuning geword.”
Jacobs voeg by dat behandelingsruimtes spesifiek vir vroue baie beperk is en daar bestaan omtrent glad nie dienste vir meisies onder 18 nie. Vrouestemme is ook grootliks uitgesluit uit die ontwerp van programme wat veronderstel is om hulle tot voordeel te strek.
Sy sê doeltreffende herstel vereis sorg wat erkenning aan trauma verleen en geslagsensitief is, maar baie dienste skiet steeds tekort op hierdie gebied weens beperkte personeelopleiding, gebrekkige trauma-ondersteuning en swak gefinansierde programme wat nie vroue se geleefde werklikhede ten volle weerspieël nie.
Volgens Jacobs is die probleem van vroue se gesukkel om toegang tot verslawingsbehandeling te kry oor die hoof gesien omdat lae behandelingsyfers dikwels as bewys aanvaar is dat minder vroue middels gebruik, terwyl die werklikheid van die teendeel spreek. Sy verduidelik: “Vroue word onvoldoende in behandeling verteenwoordig al gebruik hulle ook middels. Omdat verslawingsnavorsing en -behandelingsmodelle histories grootliks op mans geskoei was, is vroue se herstelbehoeftes, risiko’s en omstandighede nie na behore vasgelê nie.
“Daardie behandelingsgaping is in die praktyk genormaliseer. Minder vroue in behandelingsprogramme lei tot minder navorsing, minder toegewyde beddens, minder geld vir programme slegs vir vroue en beperkte professionele ervaring om op vroue se behoeftes te reageer. Op dié manier versterk die stelsel aanhoudend die persepsie dat dit ʼn kleiner probleem is as wat dit werklik is.”
Jacobs voer aan dat toegang tot verslawingsbehandeling as ʼn mensereg beskou moet word, omdat verslawing nie ʼn morele mislukking is nie, maar ʼn ernstige gesondheids- en sosiale kwessie wat individue, gesinne, gemeenskappe en die samelewing in ʼn breër sin raak.
“In ooreenstemming met ons Grondwet se verbintenis tot waardigheid, gelykheid en toegang, moet verslawingsbehandeling as beide ʼn gesondheidsorg- en ʼn menseregtekwessie erken word, want middelafhanklikheid beïnvloed die brein, die liggaam en mense se vermoë om met waardigheid en stabiliteit te leef. Wanneer vroue van behandeling uitgesluit word weens stigma, diskriminasie, armoede of dienste wat nie aan hulle behoeftes voldoen nie, word hulle regte ondermyn.”
Sy beklemtoon die belangrikheid van behoorlike opleiding en ondersteuning vir professionele personeel, insluitend gefinansierde opleiding in trauma- en geslagsensitiewe sorg vir maatskaplike werkers en ander diensverskaffers, asook die skep van veilige ruimtes slegs vir vroue.
“Geslagsensitiewe dienste sal trauma, geslagsgebaseerde geweld, moederskap, voortplantingsgesondheid, ouerskap en finansiële kwesbaarheid as deel van die behandeling eerder as bysake aanpak. Dit sal ook van programme wat op die behoeftes van vroue van toepassing is, vereis om hulle taal, beleide en daaglikse praktyke te hersien sodat skadelike stereotipes nie versterk word nie. Allerbelangrik is dat vroue self ingesluit moet word wanneer daar bepaal word wat doeltreffende behandeling is.”
Jacobs doen ʼn beroep op die regering om verder as beleidsondernemings te beweeg en geld vir vrougesentreerde verslawingsorg te verskaf.
“Ons het voete op die grond en sterker sigbaarheid in ons gemeenskappe nodig, asook tasbare investering om vroue te bereik voordat hulle verlore gaan. Dit beteken die heropening van behandelingsruimtes wat weens finansiële besnoeiings gesluit is, die herstel van spesialisopleidingsgeleenthede, die ondersteuning van huidige personeel en programme, en om ʼn sterker teenwoordigheid te vestig op die plekke waar vroue woon en middels gebruik.
“Vroue moet weet dat behandelingsdienste beskikbaar is, vertrou kan word en dat ons bondgenote in hulle herstel is eerder as bloot stelsels wat hulle straf, beskaam of verneder.”
Dr. Danyschka Jacobs
Departement Maatskaplike Werk
Universiteit Stellenbosch





