GAUTENG. – Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het vanoggend (Donderdag) bevestig dat nog twee leerlinge in die hospitaal aan hulle beserings beswyk het ná ‘n ongeluk Maandag in Vanderbijlpark. Die bestuurder (22) van die voertuig wat die leerlinge vervoer het, word nou deur 14 aanklagte van strafbare manslag, asook roekelose en nalatige bestuur, in die gesig gestaar. Hy sal vandag in die plaaslike landdroshof voorkom.
Luidens ‘n verklaring van Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys, is die name van 12 van die oorledenes bekend gemaak. Die departement sê die leerlinge was onderweg na hulle onderskeie skole toe die ongeluk plaasgevind het. Ondersteuning word aan die betrokke skole en gesinne gebied.
- Buhle Radebe, graad 11, Hoërskool Vanderbijlpark
- Bokamoso Mokhobo, graad 8, Hoërskool Vanderbijlpark
- Sibongile Madonsela, graad 10, Hoërskool Vanderbijlpark
- Leano Moiloa, graad 8, Hoërskool Vaal
- Lesego Sefatsa, graad 2, Laerskool Oakwood
- Letlotlo Katlego Makwe, graad 2, Laerskool Vaal Triangle
- Ofentse Jayden Vinger, graad 1, Laerskool Oliver Lodge
- Lindokuhle Mabaso, graad 5, Laerskool Noordhoek
- Pheello Motaung, graad 11, Christelike Skool El-Shaddai
- Puleng Maphalla, graad 11, Christelike Skool El-Shaddai
- Naledi Motsapi, graad 10, Christelike Skool El-Shaddai
- Bohlale Lekekela, graad 1, Christelike Skool El-Shaddai
Die polisie het bevestig dat die bestuurder Dinsdag uit die hospitaal onstlaan en dadelik in hegtenis geneem is.





