NOORDWES. – Nog 340 onwettige myners is omstreeks 12:00 gearresteer, nadat hulle ook in Orkney uit die ou verlate mynskagte na bogronds teruggekeer het. Saterdag is 225 in hegtenis geneem wat ook ondergronds uitgekom het.
Brig. Athlenda Mathe sê sedert 12:00 is ten minste 565 onwettige myners tydens operasie Vala Umgodi se taakspanne in ‘n gesamentlike poging deur die SAPD en die SANW aangekeer.
Lt.genl. Shadrack Sibiya, die waarnemende nasionale kommissaris, het die taakspanne geprys.
“Hierdie is ‘n ontwikkelende storie.”
Nuusflits het vroeër berig 225 onwettige myners is Saterdag in Orkney weens honger en dors bogronds gedwing, waarna hulle gearresteer is. Die myners se toegangsroetes is deur owerhede blokkeer.
Brig. Athlenda Mathe sê daar word geglo die myners wat nou gearresteer is, is deel van honderde, indien nie duisende nie, myners wat ondergrond sonder noodsaaklikhede, kos en water vasgekeer sit.
Vala Umgodi-spanne, onder leiding van die SAPD en die SANW, het vroeër die week gemeenskappe afgekamp om te keer dat kospakkies, water en ander benodigdhede aan onwettige mynwerkers verskaf word. Hierdie blokkades het veroorsaak dat 225 van die mynwerkers na die oppervlak teruggekeer het.
Die operasie duur steeds voort en die ou verlate mynskagte word gemonitor soos meer onwettige myners uitkom.
Lt.genl. Shadrack Sibiya sê operasie Vala Umgodi lewer landswyd positiewe resultate: “Ons hou die situasie wat in die Noordwes-provinsie ontvou noukeurig dop. Ons tree nie terug totdat al die onwettige mynwerkers na bo kom en gearresteer word nie. Sedert die operasie in Desember 2023 ‘n aanvang geneem het, is meer as 13 691 verdagtes in sewe provinsies, wat brandpunte vir onwettige mynbou is, in hegtenis geneem. Ons het op R5 m. in kontant en ongeslypte diamante ter waarde van R32 m. deur Operasie Vala Umgodi beslag gelê.”
Mathe sê die meerderheid van die gearresteerde individue is Suid-Afrikaners, Mosambiekers en Basotho-burgers.
“Die SAPD sal inligting van ander nasionaliteite soos en wanneer meer onwettige mynwerkers weer na bo kom, bekendmaak.”


