VRYSTAAT. – ‘n Ontploffing, die tweede in ‘n kort tyd, het vanoggend by die Woolworths-winkel in Preller Square in Bloemfontein plaasgevind. Gisteroggend het ‘n ontploffing by die Woolworths-winkel in Menlyn Mall in Pretoria voorgekom. Die plaaslike polisie se bomopruimingseenheid en relevante rolspelers is na die toneel ontbied.
AO Fikiswa Matoti, woordvoerder van die Valke, sê aan Nuusflits ’n voorval van ’n beweerde ontploffing by ’n klerewinkel in Preller Square in Bloemfontein word tans ondersoek. Die winkelbestuurder het omstreeks 03:00 vanoggend ’n oproep van ’n veiligheidsmaatskappy ontvang wat hom ingelig het van ’n ontploffing in die winkel. Die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Bloemfontein hanteer die saak.
Preller Square se bestuur het in ‘n verklaring bevestig dat geen beserings of noemenswaardige skade aangemeld is nie. Nadat die relevante owerhede die nodige veiligheidsassesserings voltooi het, is die sentrum as veilig verklaar en weer vir die publiek oopgestel. Die bestuur het ook hul dank uitgespreek teenoor die polisie, nooddienste, huurders en besoekers vir hul samewerking.







