OOS-KAAP. – ‘n Polisiekonstabel is Donderdagaand omstreeks 20:30, terwyl hy aan diens in Mount Fletcher was, geskiet. Hy het in ‘n hospitaal aan sy skietwond gesterf.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê die polisiebestuur in die provinsie is kwaad en geskok oor die moord op die konstabel. Na bewering het vyf gewapende verdagtes in ‘n Corsa-bakkie twee konstabels wat in die Mjamba-area aan diens was, in ‘n lokval gelei. Die verdagtes het uitgespring, op die konstabels geskiet en een in die bolyf gewond. Die polisielede se vuurwapens is afgeneem.
Daarna het die verdagtes die eienaar van ‘n nabygeleë kroeg van sy vuurwapen, ‘n onbekende bedrag geld en drank beroof. Hierna is ‘n Polo Vivo gekaap waarin die verdagtes gevlug het.
Tydens patrollies en ‘n soektog na die verdagtes is die gekaapte Polo verlate by die Ncome-woonbuurt, buite Mount Frere, gevind. Die ander konstabel, drankwinkeleienaar en bestuurder van die gekaapte voertuig is ongedeerd.
Die beseerde konstabel is na ‘n hospitaal geneem waar hy aan sy wonde beswyk het. Enigiemand met inligting oor die voorval, wat die polisie met die opsporing van die verdagtes kan help, word aangemoedig om na vore te kom.
Lt.genl. Nomthetheleli Mene het ‘n waarskuwing gerig: “Ons sal nie sulke brutale optrede teen ons lede duld nie. Ons doen ‘n beroep op die burgerlike samelewing om hande met die polisie te vat om die oortreders vinnig aan te kla. Ons betuig ons innige meegevoel met die familie, vriende en kollegas van ons gevalle lid.”





