LIMPOPO. – Macandze Lionel da Marta (26), ‘n Mosambiekse burger, is in Zimbabwe in hegtenis geneem. Hy is die derde verdagte in die Krugerwildtuin-moordsaak nadat Ernst (71) en Dina Marais (73) van Mosselbaai in die Kruger Nasionale Park vermoor is. Die slagoffers se liggame is op 22 Mei by Crooks Corner in die park gevind.
Volgens nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, is die Mosambieker onlangs in Zimbabwe vasgetrek nadat hy daarin geslaag het om aanvanklik die polisie te ontduik en oor die grens te vlug. Hy sal nou na Mosambiek gedeporteer word om saam met sy twee medepligtiges op aanklagte van moord tereg te staan. Die eerste wee verdagtes is reeds op 1 en 2 Junie in Mosambiek aangekeer. Tydens dié operasies is die vermoorde egpaar se voertuig ook teruggevind. Mathe sê die suksesvolle opsporing van die derde verdagte is die gevolg van noue samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe in die streek, insluitend die polisie, SANParke, Mosambiek se SERNIC en die polisie in Zimbabwe.
Owerhede beklemtoon dat die samewerking ’n duidelike boodskap stuur dat misdadigers nie geregtigheid kan ontduik deur landsgrense oor te steek nie. Tydens die ontdekking van die slagoffers se liggame is daar ook bevind dat hul voertuig vermis was, wat op 26 Mei in Chókwè, Mosambiek gevind is. Dit het gelei tot die eerste inhegtenisneming op 1 Junie in Chókwè, terwyl ’n tweede verdagte op 2 Junie in Xai-Xai in die Gaza-provinsie in hegtenis geneem is. Die twee mans, albei Mosambiekse burgers van 32 en 33 jaar oud, word met die moorde en die kaping van die voertuig verbind. Hulle staan tans op aanklagte van moord en kaping tereg en verdere aanklagte kan volg. Daar word verwag dat beide vandag in Maputo, Mosambiek, in die hof sal verskyn.
Die egpaar is laas op 20 Mei by die Pafuri-piekniekplek in die Krugerwildtuin gesien. Toe hulle nie teruggekeer het nie, is ’n soektog van stapel gestuur. Hul liggame is drywend in die Levubu-rivier, met veelvuldige steekwonde gevind. Spore in die omgewing het aangedui dat ’n voertuig moontlik deur die veld en oor die grens na Mosambiek beweeg het.





