LIMPOPO. – Twee verdagtes is in Mosambiek in hegtenis geneem nadat Ernst (71) en Dina Marais (73) van Mosselbaai in die Kruger Nasionale Park vermoor is. Die slagoffers se liggame is op 22 Mei by Crooks Corner in die park gevind.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê hul voertuig, ’n dubbelkajuit Ford Ranger-bakkie, is op 26 Mei in Chókwè, Mosambiek gevind. Dit het gelei tot die eerste inhegtenisneming op 1 Junie in Chókwè, terwyl ’n tweede verdagte op 2 Junie in Xai-Xai in die Gaza-provinsie in hegtenis geneem is. Die twee mans, albei Mosambiekse burgers van 32 en 33 jaar oud, word met die moorde en die kaping van die voertuig verbind. Hulle staan tans op aanklagte van moord en kaping tereg en verdere aanklagte kan volg. Daar word verwag dat beide vandag in Maputo, Mosambiek in die hof sal verskyn.
Willie Aucamp, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, het die vinnige en suksesvolle optrede van wetstoepassingsowerhede verwelkom. Volgens die minister is die inhegtenisnemings die gevolg van doeltreffende samewerking tussen verskeie rolspelers, insluitend Mosambiek se SERNIC, SANParke en internasionale bewaring- en wetstoepassingsvennote. Hy het bevestig dat daar aangedui is dat die verdagtes reeds skuld erken het en dat die egpaar se voertuig teruggevind is.
Aucamp sê Suid-Afrika sal nou die formele uitleweringsproses begin. Die minister sê hy hoop dat die inhegtenisnemings ’n mate van troos sal bring vir die Marais-familie terwyl hulle deur hierdie moeilike tyd gaan.
Die egpaar is laas op 20 Mei 2026 by die Pafuri-piekniekplek in die Krugerwildtuin gesien. Toe hulle nie teruggekeer het nie, is ’n soektog van stapel gestuur. Hul liggame is drywend in die Levubu-rivier naby Crooks Corner met veelvuldige steekwonde gevind. Spore in die omgewing het aangedui dat ’n voertuig moontlik deur die veld en oor die grens na Mosambiek beweeg het, hoewel dit in daardie stadium nog nie bevestig is dat die betrokke voertuig aan die egpaar behoort nie.





