Nóg vier vir Senekal-plaasaanval vas

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

Nog vier verdagtes is gisteraand vir ‘n plaasaanval wat op 17 Mei 2023 omstreeks 20:30 op Senekal plaasgevind het, in hegtenis geneem. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.

Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die vier is deur die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad saam met Welkom se honde-eenheid van Bronville tydens ‘n intelligensiegedrewe ondersoek in Hani Park vasgetrek.

Fokotho Tlaitlai (37) is kort na die aanval met ‘n groot som geld in sy besit in hegtenis geneem.

Nthabiseng Mokwena (33), die vermeende bestuurder van die wegkommotor, is ook in hegtenis geneem.

Die twee verdagtes wat Vrydag 26 Mei 2023 in die hof verskyn het, het borg laat vaar en sal weer op 30 Junie 2023 in die hof verskyn.

Die dag na die aanval en aanvanklike twee inhegtenisnemings het die polisie meer van die gesteelde items teruggevind, wat twee 9 mm-pistole, twee windbukse, ‘n gaspistool, kos, klere, ‘n selfoon en juwele, insluit.

Hierna is die saak aan ‘n lid van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade toegewys wat inligting oor meer verdagtes wat moontlik met die aanval verbind word, ontvang het.

Die eenheid is saam met die Welkom-K9-eenheid na die geïdentifiseerde huise in Hani Park, Bronville. Vier buitelandse burgers, onderskeidelik 27, 31 en 39 jaar oud, is in hegtenis geneem en met die Senekal-rooftog verbind.

Tydens die intelligensiegedrewe ondersoek is op ‘n kamerasak en ‘n geheuekaart beslag gelê wat in die vier verdagtes se besit gevind is. Die items is positief deur die slagoffer geïdentifiseer.

Een van die verdagtes is met ‘n 9 mm-pistool,waarvan die reeksnommer afgevyl is, in sy besit gevind en sal vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen aangekla word. Die wapen sal vir ballistiese toetsing gestuur word om vas te stel of dit in vorige misdade gebruik is.

Twee onwettige immigrante, wat nie aan die Senekal-plaasaanval verbind is nie, is ook by die twee huise in hegtenis geneem.

Die vier addisionele verdagtes sal op 5 Junie 2023 vir hul beweerde betrokkenheid by die plaasaanval in die Senekal-landdroshof verskyn.

FiND iT het voorheen soos volg berig:

Adames Paulus Stemmett (54), ‘n boer, Zelda Stemmett, sy vrou en Suna Spershott, ‘n vriendin, is Woensdag 17 Mei 2023 op die Stemmett-plaas, The Heights, in die Senekal-distrik, aangeval.

Die drie is oorval toe hulle op die plaas aangekom het.

Hulle was besig om kruideniersware af te laai. Die man was buite en die twee vroue binne die huis.

Die boer is na bewering deur twee onbekende mans met vuurwapens gekonfronteer. Hulle het hom glo die huis ingevat, waarna nog vier onbekende verdagtes ingekom het.

Die twee vrouens is blykbaar met ‘n koord vasgebind, waarna Stemmett die slaapkamer inforseer is deur die verdagtes wat glo na ‘n kluis gesoek het.

Hulle het na bewering drie vuurwapens, juwele, selfone en kontant gebuit, waarna hulle van die toneel gevlug het.

Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Spershott was op die foon toe die verdagtes binnekom, gevolglik kon alles gehoor word. Boere is in kennis gestel en het opgedaag om hulp aan te bied.

‘n Beweerde verdagte is aangekeer en ‘n groot som kontant is glo in sy besit gevind, waarna hy in hegtenis geneem is.

‘n Vrou (33) het glo met ‘n wegkommotor nie ver van die plaas langs ‘n pad geparkeer. Sy is ook in hegtenis geneem.

Met verdere ondersoek is ‘n Uzzi 9 mm-outomatiese masjiengeweer en die voertuigsleutels van die slagoffers buite die plaaswerf gevind.

Die verdagtes sal Vrydag 19 Mei 2023 in die Senekal-landdroshof verskyn.

Vyf verdagtes is nog soek.

Lt.kol. Melato Sephiri, stasiebevelvoerder van Senekal, versoek enigeen met inligting om met hom in verbinding te tree by 082 455 6108 of die Stop Misdaad-nommer 08600 10111 te kontak.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief