Die luukse-treinoperateur Rovos Rail het bevestig dat twee mense omgekom het nadat twee lokomotiewe en twee dienswaens ontspoor het. Die ontsporing het by Naute plaasgevind nadat die laaste gedeelte van ’n brug meegegee en weggespoel het.
Lees ook: Rovos Rail-trein in botsing in Zimbabwe
https://nuusflits.com/rovos-rail-trein-in-botsing-in-zimbabwe/
Naute is sowat 285 km van Ariamsvlei en die Suid-Afrikaanse grens geleë.

Die twee oorledenes is ’n Rovos Rail-bestuurder en ’n TransNamib-werknemer. Die maatskappy het sy simpatie met die naasbestaandes van die oorledenes uitgespreek.
Luidens ’n persverklaring wat deur die maatskappy uitgereik is, het die trein se outomatiese remstelsel betyds geaktiveer en verdere skade beperk. Geen passasiers of ander personeel is beseer nie. Daar was 36 Rovos Rail-personeellede en 45 toeriste op die trein.
Bystands- en noodplanne is onmiddellik geaktiveer, luidens die verklaring. Die maatskappy beskou die veiligheid van gaste en personeel as ’n prioriteit. Passasiers word per bus na Upington in Suid-Afrika vervoer, van waar hulle na Kaapstad sal vlieg.





