VRYSTAAT. – Agt mense is vanoggend (Vrydag) op die toneel van ‘n minibustaxi-ongeluk op die N3-hoofweg tussen Van Reenenpas en Montrose dood verklaar. Nog ses persone is met matige beserings na die Thebe-hospitaal in Harrismith vervoer. Die pad is tans heeltemal gesluit en die verkeer is opgehoop.
Sipho Towa, voorsitter van die Road Incident Management Systems (RIMS) in die Vrystaat, raai motoriste aan om uiterste versigtigheid te beoefen en verkeersinstruksies te volg. Bestuurders van voertuie word gevra om waaksaam te wees vir nooddienste en verkeersbeamptes op die toneel.
Alternatiewe roetes kan gebruik word: vanaf Harrismith, neem die R712 na Qwaqwa/Phuthaditjhaba/Bergville. Na sowat 10 km op die R712, neem die R74-afdraai na Bergville/Oliviershoekpas. By Bergville, neem die R616 wat weer aansluit by die N3. Vanaf Estcourt, neem die R616 na Bergville, draai daar in op die R74 na Phuthaditjhaba/Qwaqwa en volg dan die R712 terug na Harrismith.
Verdere inligting sal verskaf word sodra dit beskikbaar is.





