NOORD-KAAP. – Altesaam 63 nuwe polisievoertuie is Maandag in Kimberley aan verskeie polisiestasies in die provinsie oorhandig.
Lt.kol. Sergio Kock sê lt.genl. Koliswa Otola is tydens die oorhandiging by die Kimberley-honde-eenheid deur verskeie hooggeplaaste offisiere, asook distrikskommissarisse, provinsiale hoofde en stasiebevelvoerders vergesel. Otola het gemaan die voertuie moet verantwoordelik tydens die bekamping van misdaad gebruik word.
Kock sê 40 Toyota-dubbelkajuitbakkies en 23 Isuzu 4 x 4-dubbelkajuitbakkies wat met gemak in die Noord-Kaap gebruik kan word, is oorhandig.
Otola het herhaal daar sal voortgegaan word om reaksietyd van gemeenskapsklagtes en sigbare polisiëring te verbeter, met die fokus om die provinsie veilig te hou.





