VSA. – Die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en -Voorkoming (CDC) het ‘n uitbraak van die norovirus aan boord van die passasierskip, Caribbean Princess van Princess Cruises, bevestig nadat meer as 100 passasiers en lede van die bemanning siek geword het.
Volgens dié departement se Vaartuigsuiwerheids- en Sanitasieprogram (VSP) het die uitbraak plaasgevind tydens reis B612, wat op 28 April vertrek het en op 11 Mei sou eindig. Die uitbraak is op 7 Mei aan die VSP gerapporteer. Van die 3 116 passasiers aan boord het 102 mense, simptome onder lede gehad. Dertien lede van die bemanning uit ‘n totaal van 1 131 het ook siek geword. Die simptome is diarree en braking, kenmerkend van die norovirus, wat hoogs aansteeklik is en maklik van persoon tot persoon oorgedra kan word. In reaksie op die uitbraak het Princess Cruises en die bemanning onmiddellik opgetree deur skoonmaak- en ontsmettingsprosedures te verskerp, ontlastingmonsters van siek passasiers vir toetsing te versamel, siek passasiers en bemanningslede te isoleer en die VSP te raadpleeg oor sanitasie- en verslagdoeningsprosedures. Die VSP voer tans ‘n omgewingsbeoordeling en uitbraakondersoek aan boord uit om die verspreiding van die siekte te bekamp.
Die CDC herinner alle passasiers daaraan dat dit uiters belangrik is om siekteverskynsels soos diarree en braking onmiddellik by die skip se mediese personeel aan te meld. Vinnige rapportering help om ‘n uitbraak vroeg op te spoor en om die verdere verspreiding van siekte te beperk. Hierdie skepe is wetlik verplig om alle gevalle van gastro-intestinale siektes aan die CDC te rapporteer.
Druk hier om meer te lees.





