OOS-KAAP. – Die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DBVO) ondersoek nuwe berigte van sardyne wat op strande en in die see en hawe van Gqeberha aangetref is. Die publiek word gewaarsku om nie dooie of sterwende sardyne wat op strande of in die see aangetref word, te versamel of te eet nie en dit ook nie aan troeteldiere te voer nie.
Zolile Nqayi, departementele woordvoerder, sê sardynvrektes is ook langs die Namibiese kus aangemeld, waarna Namibiese owerhede monsters vir sardynherpesvirus-toetsing (PHV) sal verskaf. PHV bly die waarskynlikste verklaring vir die vrektes in die Wes-Kaap. ’n Verband met die voorkoms van visvrektes by Gqeberha word as waarskynlik beskou, maar moet nog bevestig word. Die departement sê die omvang van die vrektes is steeds onseker. Die Klein Pelagiese Wetenskaplike Werkgroep vergader op 4 September om die jongste bevindings en moontlike bestuursmaatreëls te bespreek.
PHV is nie bekend daarvoor dat dit mense besmet nie. Die departement beklemtoon dat daar geen rede is om die verbruik van kommersieel vervaardigde ingemaakte sardyne wat onder die nasionale reguleerder vir verpligte spesifikasies (NRCS) se toesig verwerk is, te staak nie.
Druk hier om meer te lees.