Die 44 bobbejane van die Waterfall-trop wat die afgelope naweek van Simonstad na die Stedelike Natuurlewesentrum by Kogelfontein verskuif is, pas volgens die Kaapse Skiereiland se gesamentlike taakspan vir bobbejaanbestuur goed by hul nuwe omgewing aan.
Die diere speel, soek kos, gebruik die waterpoele en rus op die dakke van spesiaal ontwerpte slaapstrukture, het die taakspan gesê.
Die sentrum is in ’n natuurlike gebied langs die Tafelberg Nasionale Park geleë. Die omgewing het rivierkenmerke, plantegroei, bosse, klein bome, rotse en sanderige gebiede waar die bobbejane kan grawe en kos soek.
Waterfall-trop by Kogelfontein deurentyd gemonitor
Volgens die taakspan, wat uit verteenwoordigers van SANParke, CapeNature en die Stad Kaapstad bestaan, word die diere deurentyd versorg en gemonitor. Hulle word ook beskerm teen beserings deur mense, honde en verkeer, asook teen toegang tot ongeskikte menslike voedsel.
Drie natuurleweveeartse het elke bobbejaan voor vrylating in die kamp ondersoek. Een ouer wyfie is uitgesit nadat die ondersoek aan die lig gebring het dat sy in ’n baie swak gesondheidstoestand was. Die ander 44 bobbejane is volgens die taakspan veilig en ongedeerd na Kogelfontein verskuif.
Geen mannetjies het vasektomies ondergaan nie, terwyl die wyfies voorbehoedingsinplantings ontvang het.
Kamp van 2,31 hektaar
Die kamp is 2,31 hektaar groot en beskik oor drinkwater, ’n poel, skuilings en platforms vir slaap en rus. Die bobbejane se natuurlike dieet word aangevul en kos word versprei om hulle aan te moedig om daarna te soek.
Die trop is verskuif ingevolge die goedgekeurde aksieplan vir bobbejaanbestuur op die Kaapse Skiereiland. Die taakspan het onder meer die volgehoue konflik tussen mense en bobbejane in Simonstad, beperkte natuurlike habitat en kommer oor die diere se welsyn en openbare veiligheid as redes aangevoer.
Meer as 530 bobbejane leef steeds vry op die Kaapse Skiereiland en speel volgens die taakspan ’n belangrike ekologiese rol.
Foto: Die Waterfall-trop verken hul nuwe omgewing by Kogelfontein. Foto: Verskaf
Lees ook: Overstrand-munisipaliteit hersien plan om bobbejane te bestuur