NVG bevestig Welkom-prokureur is wel skuldig bevind

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

VRYSTAAT. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) bevestig dat Jan Gysbert Maritz (57), ’n prokureur van Welkom, deur die Bloemfontein-hof op 16 klagtes van ernstige seksuele oortredings, insluitend verkragting op minderjariges, skuldig bevind is.

Mojalefa Senokoatsane, NVG-streekwoordvoerder, sê in ‘n verklaring die bevestiging is uitgereik na aanleiding van misleidende inligting in die openbaar wat beweer dat “niks in die saak gebeur het nie” of dat “Maritz nie skuldig bevind is nie.”

Maritz is aanvanklik aangekla op 18 sake ingevolge die wet op seksuele misdrywe, asook ’n bykomende klag van aanranding. Die oortredings het tussen 2007 en 2014 in Virginia, Welkom en Odendaalsrus plaasgevind. Al die slagoffers was ten tyde van die oortredings minderjarig. Op 21 Mei 2021 het Maritz formele erkennings ingevolge artikel 220 van die strafproseswet afgelê, wat deur die hof aanvaar is. Hy is daarna op 16 klagte, insluitend drie aanklagte van verkragting, skuldig bevind.

Maritz het ná sy skuldigbevinding regsverteenwoordiging aangestel en twee aansoeke ingedien: vir die onttrekking van die regter weens beweerde vooroordeel, en om sy artikel 220-erkennings te herroep. Albei aansoeke is van die hand gewys. Sy appèl teen die regter is ook deur die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof verwerp.

Die saak is vir vonnisoplegging tot 6 Oktober uitgestel wanneer die hof onder meer die voorgeskrewe minimumvonnis van lewenslange gevangenisstraf sal oorweeg, soos in die strafregwysigingswet vir verkragting van minderjariges onder verswarende omstandighede bepaal.

“Die NVG veroordeel die doelbewuste verspreiding van vals inligting in hierdie saak. Dit ondermyn nie net die publiek se vertroue in die regstelsel nie, maar kan ook verdere trauma aan slagoffers veroorsaak,” het Senokoatsane gesê.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief