GAUTENG. – In wat as ‘n toonaangewende uitspraak in die Mamelodi-landdroshof bestempel word, is die NVG, na skuldigbevinding in ‘n aanrandingsaak, beveel om vervolgingskostes en uitgawes te betaal.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê in ‘n verklaring die eenheid het verseker Irvin Thabo Ngobeni word vir die aanranding van Nthabiseng Sebothoma, sy buurvrou, skuldig bevind. Ngobeni is op 12 November 2024 skuldig bevind. Hy is drie maande tronkstraf, of ‘n boete van R6 000, opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is.
Ngobeni wou op 23 September 2023 toegang verkry om sy motorsleutels op Sebothoma se dak te soek, wat iemand glo daar gegooi het. Hy het haar wakker gemaak en toe sy vir hom sê om ligdag terug te keer, het hy haar beledig en gedreig om haar dood te maak. Sy het hom toegang tot die eiendom belet, waarna hy haar geslaan, geskop, haar gekrap en haar klere geskeur het.
“Artikel 15(2) van die Strafproseswet bepaal dat ’n hof die staat kan las om private vervolgingskostes en -uitgawes te dek indien privaat vervolging ingestel is nadat die staat geweier het om te vervolg én die beskuldigde dan skuldig bevind word. In hierdie geval was die privaat aanklaers advokate Phyllis Vorster en Obed Tongoane. Vorster voer aan dat die NVG se irrasionele besluit om Ngobeni nie te vervolg nie privaat vervolging genoodsaak het, wat kostes tot gevolg gehad het.”
“Hierdie kostebevel is ’n bewys van die NVG se onverklaarbare versuim om sonder vrees, guns of vooroordeel te vervolg. Dit stuur ’n boodskap dat daar gevolge is wanneer die strafregstelsel slagoffers in die steek laat. Dis ontstellend dat ons eerste drie private vervolgings, wat die NVG besluit het om nie te vervolg nie, almal geslagsgebaseerde geweld behels het. Dit wys dat die strafregstelsel slegs lippediens lewer aan sy verklarings om sake te prioritiseer wat vroue en kinders betref,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid.





