MPUMALANGA. – Die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in Mpumalanga het Vrydag ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien teen bevele wat op 18 Mei deur hooflanddros T. Tonjeni gemaak is. Dit sluit die skuldigbevinding van ’n aanklaer vir minagting van die hof en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming in. Die bevele is intussen opgeskort hangende die appèlproses.
Die NVG se nasionale woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê die nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Andy Mothibi, het reeds ’n regspan onder leiding van ’n senior advokaat aangestel om regsadvies te verskaf oor die benadering tot die hofbevel ingevolge Artikel 342A(3)(c) van die Strafproseswet 51 van 1977, waardeur die strafsaak van die hofrol geskrap is. Kganyago sê die NVG hoop die hof sal binne ’n redelike tyd op die versoek om redes reageer, gegewe die dringendheid van die saak. Hy beklemtoon dat die NVG volhard in sy pogings om sy grondwetlike plig na te kom en kwesbare lede van die publiek te beskerm.
Soos Nuusflits voorheen berig het, het die aanklaer nie by ‘n hoëprofiel borgtogaansoek van Madoda Johannes Sibanyoni en ander, waar die beskuldigdes op klagtes van afpersing en geldwassery tereg staan, opgedaag nie en die saak is van die hofrol geskrap. Die polisie in Mpumalanga het egter verseker dat hulle steeds ‘n sterk saak teen vier verdagtes in dié Kwaggafontein-afpersingsaak het. Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie en grondwetlike ontwikkeling, het gesê taxibaas Joe “Ferrari” Sibanyoni kon die hof verlaat sonder dat sy borgtogsaak afgehandel is. Breytenbach het die voorval beskryf as nog ‘n bewys dat die NVG sukkel om ernstige misdaadsake doeltreffend te hanteer.





