‘n Baie bekende en omstrede kliniese sielkundige, Jordan Peterson, sê dit baie mooi: “Die perfekte verhouding moet lang periodes van vrede hê, onderbreek deur kort dele van konflik.”
LEES MEER: Die krag van ‘n saadjie plant
Ons almal hou mos maar van ‘n speletjie so af en toe. My broer hou van kaarte, veral Kings & Peasants. My swaer is weer lief vir ‘n bordspeletjie genaamd Risk. Ek is ‘n bietjie meer modern as daai twee fossiele, ek geniet ‘n lekker rekenaar game op sy tyd, verkieslik Turn-based Strategy.
Maar ag wat, elke mens het mos maar sy eie smaak. Een ding wat ek wel weet, wat geld vir elke tipe speletjie, is dat wanneer dit TE maklik of TE moeilik is, is dit nie meer so lekker nie. Ons almal wil natuurlik wen, maar het jy al agtergekom dat wanneer jy elke keer wen, die speletjie afgewater en eentonig raak? En as jy weer elke liewe keer verloor, dan raak dit ‘n depressiewe besigheid en jy wil ook nie meer speel nie.
Net so is ons menslike verhoudings ook, glo dit of nie. Veral die romantiese tipes waarvan die belangrikste natuurlik die huwelik is. Volgens Peterson is daar groot fout as daar geen konflik is nie, want dan het een van die twee óf geen mening van hul eie nie en kort hulp, óf een is ‘n narsis en domineer die ander totaal en al en kry geen teenkanting nie. Beide opsies is groot rooi vlae. As daar geen konflik is nie, is daar geen groei nie, en jou huweliksmaat is eintlik net ‘n vriend wat saam met jou in ‘n huis woon.
As daar weer te veel konflik en te min vrede is, raak die verhouding onsmaaklik en uitputtend en begin stadigaan uitmekaarval.
Of jy nou in ‘n vriendskap, verhouding of huwelik is, moenie bang wees om jou sê te sê nie. Slyp mekaar, motiveer mekaar, daag die ander se sienings uit, groei, skuur, wees lief. Jaag die vrede na sover dit moontlik is, maar as die konflik kom, verwelkom dit en gebruik dit op ‘n positiewe manier. Onthou net altyd om die respek te behou, nie te sondig as jy kwaad is nie, en om te vergewe as dit vereis word. Moenie dat die son gaan sak sonder dat issues nie uitsorteer is nie.
Lekker baklei 🙂





