Olimpiese Spele: Nuusflits-lesers sê hul sê oor openingseremonie

Lees ook :

Foto: Facebook

Die Olimpiese Spele het met groot skouspel en kontroversie in Frankryk afgeskop. Nuusflits-lesers het beslis uiteenlopende menings oor die openingseremonie gehad.

Christene wêreldwyd was nie met ‘n toneel wat volgens sommige aan die laaste Avondmaal van Christus herinner het, gelukkig nie. Sommige lesers het die opening as makaber, volksvreemd, donker en ‘n nagmerrie beskryf. Ander het dit as ongelooflik beskryf en sê diversiteit is goed uitgebeeld.

Eksplisiete tonele tydens die openingseremonie het ‘n leser inderhaas na die afstandbeheerder laat gryp omdat haar kinders teenwoordig was: “Ek moes die TV afsit a.g.v die eksplisiete seksuele agenda, veral die biblioteekdeel met twee mans en een vrou en my kinders het saamgekyk. Dit was skokkend en teleurstellend. Wat het dit met sportsmanskap en talent te doen? Bespotting van God”, sê Ingrid Theunissen.

Corné du Plessis se siening is: “Walglik. Baie simboliek wat net weer wys die satan is god van die wêreld. En daai was beslis nie Celine Dion nie, daai was ‘n clone of bluebeam of iemand wat ‘n masker gedra het. Sy’s te siek en te uitgeteer vir so ‘n show.”

Ronel Buitendag het omonwonde haar gevoel weergegee: “Jy mag die Here jou God nie bespot nie en hierdie was ‘n totale mockery van die 1ste Seël se wit perd en die Laaste maal. Mag God hulle vergewe.”

Jaco Rossouw sê: “Bitter snaaks hoe daar mense is wat lag vir die mense wat sê dit was ‘n bespotting van die Bybel! Ek het dit nie gekyk nie. Van die begin af het dit na ‘n klomp nonsens gelyk. Maar ek het genoeg van goeie vriende gehoor wie se oordeel ek 100% vertrou dat daar ‘n bespotting was van GODSDIENS. My vraag bly ook wel wat het DRAG QUEENS met die Olimpiese Spele te doen ? Ek staan eerder alleen in dit waarin ek glo en word uitgelag as saam met 1000de vir dit waarin ek nie glo nie.”

Niel Laufs sê: “Dele was awesome, maar nie geskik vir kinders nie. Tonele wat so absurd is en nie ooreenstem met ‘n Olimpiese standaard waarin op die sport – atletiek, gimnastiek, swem, fietsry, stoei – gefokus was. Wat het ‘n oorgewig blou kaal smurf te doen met die hele goed? Daai “suggestiewe 3some” in ‘n toring? Watse boodskap gee dit vir kinders? In kort dit was soos die Franse revolusie met opstand teen adellikes, so kan mens dit amper verbind dat hierdie tonele amper ‘n opstand is teen sport.”

Suid-Afrikaners is deur Charmaine Botha bloot as outyds en konserwatief bestempel. “Ek dink dit was modern en veelsydig. Ons Suid Afrikaners is maar outyds en seker konserwatief. Die openingseremonie was propvol energie en skoon uitputtend om te kyk …”

Mathilda Barnard het die kykervaring ook positief ervaar: “Ek het die simboliek nagevors en dink dit was fantasties weerspieël. Hopelik sal die Olimpiese Komitee wel in die toekoms Urban Dancing toevoeg by hul items. Celine Dion se sang op die end was fenomenaal en ‘n groot verrassing. Die beligting was werklik deurgaans pragtig.”

Magda Manuels was beïndruk: “Ek dink dit was stunning! Ongelooflik baie beplanning is ingesit! Dit het gegaan oor die Franse geskiedenis. Ek verstaan net nie Frans nie.”

Celine Dion se afsluiting met die sing van L’Hymne à l’amour was vir baie die hoogtepunt. Dit was die sangeres se eerste optrede sedert 2020. Dion is met ‘n rare neurologiese versteuring en outo-immuunsiekte, Moersch-Woltman-sindroom of SPS – “strammenssiekte” – gediagnoseer. Sy moes weer leer sing.

Adriaan Jonker voel Dion het die show gesteel.

Videokrediet: Yann Cucherat

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief