KWAZULU-NATAL. – Die liggaam van ‘n onbekende man is Woensdag uit die Mvotirivier gehaal nadat dit reeds Dinsdagmiddag in die rivier opgemerk is.
Samantha Meyrick van IPSS Medical Rescue sê volgens veiligheidsdienslede het hulle die liggaam tydens roetinepatrollie in Stanger opgemerk. Weens die vinnigvloeiende rivier en donker is besluit om Woensdagoggend na die gebied terug te keer. IPSS Search and Rescue, Badul Air en die Kwadukuza-polisie is Woensdag terug na die gebied waar die liggaam stroomaf van die N2 gedryf het.
“Die Croc met twee redders is gelanseer, wat stroomaf kon roei om die liggaam te kry. SAPD en IPSS se soek-en-reddingsvoertuie het hulle op die strand ontmoet.”
Meyrick sê die familie van ‘n man wat twee weke gelede in die Mvotirivier vermis geraak het, het die diens Dinsdagaand genader, maar is ingelig die liggaam is aan die polisie oorhandig.









