GAUTENG. – ‘n Onderwyser (45) van Hoërskool Lufhereng in Soweto het na bewering Donderdag ‘n gr. 11-meisieleerling by sy huis verkrag.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, sê ‘n kriminele saak is geopen en word deur die polisie ondersoek. Die onderwyser is as voorsorgmaatreël vir die leerling en skoolgemeenskap dadelik by die skool verwyder. Alle prosesse sal behoorlik gevolg word en psigo-sosiale ondersteuning in die vorm van traumaberading en akademiese bystand word aan die betrokke leerling gegee.
Die LUR, Matome Chiloane, sê: ““Ons is verpletter deur hierdie ernstige bewering teen die opvoeder. Opvoeders is bewaarders van onderwys en jeugontwikkeling in ons skole. As sodanig moet hulle nie betrokke raak by aksies wat moontlik die kinders wat hulle onderrig kan traumatiseer nie. As die departement veroordeel ons sulke optrede in ons skole en die breë samelewing ten sterkste. Ons doen ‘n beroep op wetstoepassingsagentskappe om hierdie saak met die sensitiwiteit te hanteer wat dit verdien. Ons bly daartoe verbind om ‘n veilige en ondersteunende leeromgewing vir alle leerlinge te bevorder. Enige vorm van beweerde wangedrag deur opvoeders sal nie geduld word nie.”





